Jong man nie aangekla na Melissa se dood
Melissa was ’n enkelma van ’n 15-jarige seun wat twee werke gedoen het om vir hom ’n goeie opvoeding te gee.
Die jong man wat homself vanoggend by die polisie gaan oorgee het saam met ’n regsverteenwoordiger na die dood van Melissa van der Westhuysen (35), gaan nie nou aangekla word nie.
Mnr. Josef van Eeden, sy regsverteenwoordiger, het gesê dat sy kliënt ondervra is, maar nie aangekla word nie.
“Daar is nog te veel ondersoekwerk wat gedoen moet word,” het mnr. Van Eeden gesê.
Die identiteit van die man is aan die Middelburg Observer bekend, maar kan weens regsgronde nie nou bekend gemaak word nie.
Intussen is ook verneem dat ’n jong meisie ’n passasier was tydens die noodlottige ongeluk waarin Melissa gesterf het.
Melissa is Saterdagoggend om 01:00 deur ’n bakkie doodgery in ’n tref-en-trap ongeluk.
Sy is is in die teenwoordigheid van twee van haar medewerknemers van die kuierkroeg Kantienklub 31, op haar bromponie raakgery, op pad huistoe.
Die bestuurder van ’n wit dubbelkajuit bakkie het van agteraf in Melissa vasgery in Lilian Ngoyistraat en sy is op die toneel dood verklaar.
Die bestuurder het daarna oor die rooi verkeerslig in Proteastraat gejaag en verdwyn.
Melissa was ’n enkelma van ’n 15-jarige seun wat twee werke gedoen het om vir hom ’n goeie opvoeding te gee.