News

Melissa en al die ander roep na geregtigheid

Geregtigheid vir Melissa gesoek.

Terwyl die familie van Melissa van der Westhuysen (35) haar begrafnis reël, het die jong man wat vermoedelik haar dood veroorsaak het, vanoggend vry by die speurtak uitgestap.

Die man en sy regsverteenwoordiger was by die polisie waar hy homself oorgegee het, maar hy is laat gaan, hangende die ondersoek.

Die polisie se provinsiale mediakantoor het by navraag gesê die ondersoek het hulle gelei het na ’n adres in Middelburg, maar dat die man nie tuis was nie.

’n Boodskap is vir hom gelaat en het hy homself vanoggend saam met sy regsverteenwoordiger kom oorgee.

Daar is gemeld dat die 29-jarige se voertuig nie die tipiese merke van ’n botsing van die genoemde aard gewys het nie en dat hy laat gaan is, hangende die ondersoek.

Verder is gemeld dat in gedagte gehou moet word dat die persoon homself ook vyf dae ná die ongeluk kom oorhandig het en dit ook ’n rol speel in die hele ondersoek.

“Terwyl ons almal in pyn is, loop hy vry rond,” het Melissa se vriendin, Felicity Marx vanmiddag gesê.

“Ek is nie gepla oor sy naam nie, ek wil net weet hoe lyk die man wat my vriendin se lewe geneem het. Ons kan egter niks daaraan doen nie. ons moet wag tot die ondersoek afgehandel is.”

• ’n Gedenkdiens word op 5 Junie om 10:00 uit die Corpus Christi gemeente gehou.

• Dit is nie die eerste saak waar ’n skuldige laat gaan is en familie en vriende moes wag vir die polisie se ondersoek nie.

• Op 27 April vanjaar was dit vyf jaar dat Gerhard Coetzer (29) doodgeskiet is tussen partytjiegangers.

Tot vandag toe nog is die persoon wat hom doodgeskiet het, nog nie aangekla nie. Alhoewel almal wat by die partytjie was wéét wie hom geskiet het.

Afriforum se privaat vervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, het verlede jaar laat weet dat hulle mnr. Coetzer se saak sal laat hersien.

Gerhard Coetzer – voor sy vrou en kinders doodgeskiet.

Dit is nie die enigste saak in Middelburg wat dié eenheid van Afriforum laat hersien het nie.

• Erika le Roux het haar ook tot Afriforum se privaatvervolgingseenheid gewend omdat die saak van haar seun, Henko Booysen, so lank gesloer het.

Die dertienjarige Henko het gesterf nadat hy op 6 November 2017 van ’n bakkie afgeval het.

Na Afriforum se ingryping en ’n nuwe ywerige ondersoekbeampte, het JP (Jaen-Pierre) Booysen in die hof verskyn op klagtes van onder andere strafbare manslag, roekeloos nalatige bestuur en bestuur sonder ’n geldige bestuurderslisensie.

Henko Booysen.

• Klein Amé Jansen van Rensburg (5) het op 26 September 2021 in ’n ongeluk op die R555 (ou Middelburg/Witbankpad) gesterf, waarna haar ouers Afriforum se privaatvervolgingseenheid gekontak het vir hulp.

Joseph Hebron Maponya het in April hierdie jaar in die streekhof verskyn op klagtes van strafbare manslag, roekeloos en nalatige bestuur en dronkbestuur.

Adv. Nel (hoof, Afriforum se privaat vervolgingseenheid) het in Augustus 2022 ’n brief aan die Nasionale Vervolgingsgesag geskryf.

Daarin het hy gesê dat dit onsinnig is om nie die saak op die rol te plaas nie, omdat daar gewag word vir bloedresultate. Hy het gesê deur bloot met die getuies te praat, kan bevestig word wat gebeur het tydens die ongeluk waarin Amé gesterf het.

Daarna het hul eenheid druk op die NVG geplaas tot die saak op die rol geplaas is.

Amé Jansen van Rensburg.

• In November 2021 is Khumbulani Malinga tronk toe gestuur vir die ongeluk op 23 Maart 2019 by McDonald’s wat Liezel Visagie geëis het.

Sy is voor haar tienerdogter doodgery ten tye van ’n hoëspoed jaagtog met plaaslike verkeersmanne.

Khumbulani Malinga – hy is skuldig bevind.

Me. Visagie se een been is by die knie in die botsing afgeruk en in ’n nabygeleë motorhandelaar se vertoonvloer opgetel. Sy kon haar tienerdogter net betyds uit die pad stamp, voordat sy getref is.

Daar het destyds eers ’n wending in die saak gekom nadat Afriforum se privaat vervolgingseenheid betrokke geraak het.

Liezel Visagie.

• Die eenheid is ook betrokke by die saak van Motheo Madihlaba, ’n jong afleweringsman van #Braai/#Pizza wat die Paasnaweek van 2022 gesterf het toe ’n voertuig hom in sy baan getref het.

Die persoon wat hom getref het, het R1 500 borg by die polisie betaal, waarna hy vry uitgestap het – hangend die ondersoek.

Motheo Madihlaba.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button