Dragtige boerboel vergiftig
’n Boerboel wat oor ’n maand kleintjies sou kry is vanoggend vergiftig.
Me. Charmaine Ackerman van Kameeldoringstraat (Kanonkop) het gesê dat hul boerboel, Siska, dragtig was en binne ’n maand kleintjies sou kry.
Tyson, ’n labrador kruising, is ook vergiftig.
Me. Ackerman is omstreeks 02:30 vanoggend gewek deur die geblaf en geknor van Vlooi, ’n worshondjie wat in die huis bly.
“Sy wou nie ophou knor nie en ek het opgestaan en deur die vensters gaan kyk na ons voorste- en middelste hek.”

Me. Ackerman kon niks sien nie, maar het opgemerk dat hul twee honde, wat agter die middelste hek is, na die voorste hek se kant toe kyk.
Tyson het geblaf, maar Siska het net saam met hom gestaan.
Siska het skielik dronk rond begin beweeg en inmekaar gesak.
Sy het haar man gaan wakker maak en vir hom gesê sy dink die honde is vergiftig. Tyson het tot by die agterdeur gevorder, maar begin ruk en omgeval.
Me. Ackerman sê die honde het binne vyf minute gevrek.
Hulle het die blou gifbolle in die erf gekry en wat lyk soos iets wat die booswigte gemeng het.

“Dit het ’n soet reuk.”
• Die gifgooiers het van die bure se kant af oor die muur gespring en daarna geloop tot by die middelhek om die honde te vergiftig. Hul spore is in die tuin gekry waar hulle oorgespring en weer uitgeklouter het.
Toe die gif oor die hek gegooi is, het dit gespat tot teen die muur.
• Vlooi het vanoggend sommer ’n lekkerny gekry omdat hy hulle wakker gemaak en ’n moontlike inbraak voorkom het. Die gesin is egter baie hartseer oor hul twee groot honde wat gevrek het.
• Sy het genoem dat daar voorheen al vyf van hul honde vergiftig is. “Bykans elke keer is daar twee honde saam vergiftig. Ons het in Springbokstraat gebly toe ons ander honde vergiftig is.”
• In die meeste gevalle waar honde vergiftig is deur die jare, is die gevreesde Temik-gif, (ook ‘Two Step’ genoem weens die vinnige werking) gebruik.
Die gifstrooiers gee gewoonlik die honde gif om motorfietse en ander waardevolle artikels uit motorhuise te steel.
• Die vergiftiging is by die Middelburg Dierebeskermingsvereniging aangemeld.

