“Los Jake uit!” sê land se grootste Bulle ondersteuner
“Los vir Jake White uit!” Die doemprofete wat van die Blou Bulle se afrigter ontslae wil raak, moet eers verby die land se grootste Bulle ondersteuner kom.
Tilla Hechter, of “Tilla van Marble Hall” sê reguit “ek weet baie mense se opinie is dat Jake moet weg, maar toe hy begin afrig het, het die span uitstekend gevaar.”
Skrywer Dana Snyman het haar al beskryf as “een van die bekendste, onbekende mense in die land”. Sy is die vrou wat vir baie jare ingebel het na kykNET se rugbyprogram SuperRugby en reguit, eerlike vrae vir Kobus Wiese en Toks van der Linde gevra het.
Haar heserige stem was bekend onder duisende rugbyliefhebbers.
Sy het vir 19 jaar in Marble Hall se poskantoor gewerk het as superintendent en vir twee jaar as posmeester afgelos.
Eers in 1997 het sy ernstig begin rugby kyk, nadat haar oorlede man, Chris, siek geword het. “Die ou man wat so sieklik was het my by die rugby ingekry. Hy het hartmoeilikheid gehad en moes ‘n stent kry, waarna daar vir hom kalmeerpille voorgeskryf is. Hy het geen lus vir die lewe gehad nie. Ek het saam met hom begin rugby kyk. Chris was ‘n groot Noord-Transvaal ondersteuner.”
Haar man is reeds 10 jaar oorlede, maar sy vertel dat die rugby kyk darem gewerk het! “Dit was simpel pille gewees daai, hy was al ses maande van die kalmeerpil af, voor hy eers weer behoorlik lewe gekry het.”
Me. Hechter is ‘n groot Bul-ondersteuner.
Sy praat van die Blou Bul rugbyspelers asof hulle haar kinders is.
Me. Hechter kan nie onthou wanneer die eerste keer was wat sy ingebel het SuperRugby-ateljee toe nie, of wat die rede was nie. “Ek dink die eerste oproep was seker in 1998 en het tien teen een gegaan oor Bobby Skinstad. Ek het nie ooghare vir hom gehad nie.”
Sy het so gereeld ingebel, dat haar stem vinnig uitgeken kon word as “Tilla van Marble Hall”.
“Een keer het ek ingebel en gesê dat die Bulle sal moet pick and drive vir hul wedstryd teen die Skotte en Errol Tobias het gesê dat dit waar is,” vertel sy met rollende oë en irritasie in haar stem.
Een aand het sy vir Heyneke Meyer gesê sy dink hy behoort haar in sy afrigtingspan te hê en hy het so ewe gesê sy moet haar CV stuur.
Frik du Preez, die rugbylegende, het selfs een van sy honde na haar vernoem.
Me. Hechter sê dat sy altyd in die moeilikheid gekom het by die poskantoor, oor haar oproepe aan die SuperRugby-ateljee, aangesien hul gevoel het dat sy die poskantoor in ‘n swak lig plaas. “Ag, ek is ook altyd in die k@k. Dis net die diepte wat verskil.”
Sy probeer steeds inbel na die SuperRugby-ateljee, maar kan nie deurkom nie.
“Ag, vandag is daar nou goed soos Twitter en ander sosiale media platforms, wat meer aandag kry. Ek is op die SuperRugby WhatsApp-groep, en het daar al WhatsApp boodskappe gelos, maar lyk my dit werk ook nie.”
“Ek kan onthou dat ek wel op Loftus was toe die Bulle vir die Crusaders die grootste pakslae van hul lewe gegee het, asook die een waar die Bulle teen die Brumbies gespeel het.”
Die SuperSport span was ‘n aantal jaar gelede op Marble Hall vir ‘n buite-uitsending en sy het vir Toks van der Linde en Kobus Wiese ontmoet. Sy vertel dat sy ook op televisie was met Dana Snyman, wat met haar gesels het oor veiligheid toe sy nog baie betrokke was by Marble Hall Buurtwag.
“Dana het ook ‘n onderhoud met my gevoer oor rugby, wat in sy rugbyboek gepubliseer is.”
Haar huidige gunsteling Blou Bul rugbyspelers is Chris Smit (Losskakel), David Kriel (Vleuel) en Cornal Hendricks (Vleuel).
Wat die huidige rugbyseisoen betref, sê me. Hechter dat die Blou Bulle baie goeie spelers het, “maar hulle maak droog.”
Sy en ses ander inwoners van Loskopvallei Rusoord is dol daaroor om saam rugby te kyk.
