News

Een doodgeslaan, oë uitgesteek, in bloedige gevegte

’n Man is doodgeslaan, ander se oë is uitgeslaan met skerp voorwerpe en in die jongste voorval is ’n sakeman se kop oopgekloof in die skokkende reeks aanvalle wat gereeld by kuierplekke op Middelburg plaasvind.

Franco van der Merwe (42) het ’n diep sny aan sy kop opgedoen, nadat hy by die Dros Restaurant aangerand is.
Hy weet nie presies wat gebeur het nie, maar hy vermoed sy kop het ’n stoel getref, toe hy van agter af aangeval is.

Die persoon wie se naam hy genoem het oor die gebeure, ook ’n jong sakeman, is genader vir kommentaar, maar hy het verkies om nie nou iets oor die geveg te sê nie.
Na wat verneem word is daar nog nie ’n aanrandingsklagte by die polisie geopen nie en die persoon wat hy beskuldig, se naam mag daarom nie genoem word nie.

Mnr. Van der Merwe se kop moes met steke geheg word en hy het rekonstruktiewe operasies aan sy gesig ondergaan. Sy oog is ook beskadig en hy moet “dokters daarvoor sien.”
Nadat hy bebloed huistoe is, is daar later ook op hom geskiet by die Ouhout Meenthuise.

Bure het ’n bakleiery gehoor tussen ’n man en ’n vrou en kort daarna het drie skote geklap. Die polisie is gekontak, maar met hul aankoms was hy reeds weg.

Franco sê hy is nie raakgeskiet nie, maar ’n werknemer van sy sake-onderneming het hom hospitaal toe geneem, omdat sy kopwond wat hy opgedoen het by die Dros, erg gebloei het.

Dit is nie die eerste geveg waar mense ernstig beseer is tydens gevegte en aanvalle in Middelburg nie.

• Groot geheimhouding het in April hierdie jaar geheers nadat ’n jong man se keel byna afgesny is met ’n skerp voorwerp (waarskynlik ’n drankbottel) by ’n kuierplek.
Al die betrokkenes en die slagoffer wou nie praat oor die voorval nie, maar ’n foto wat die joernalis onder oë gehad het, wys ’n lang en diep sny aan sy keel.

Ruwan Dippenaar.

• In dieselfde tyd is die 21-jarige Ruwan Dippenaar se neus vergruis toe hy van agter af aangeval en hy op sy gesig geval het.
Hy het die aand by Hoofkantoor gekuier en wou huistoe stap, toe hy aangeval is tussen geboue naby Cowen Ntulistraat. Nadat hy aangeval is, is hy ook erg aangerand.

• Oor die Paasnaweek het die vuiste ook geklap by ’n ander kuierplek en is die betrokkenes polisie toe vir aanrandingsklagtes.
Van die gevegte dateer so ver terug as 1987.

Chris Reynierse.

• Chris Reynierse is op 13 November 1987 in die gesig geslaan met ’n bierglas by die destydse JB’s (later Libra). Hy wou bakleiers, wat sy vriend aangeval het, uitmekaar probeer maak, toe hy geslaan is.

Sy regteroog is so erg beseer, dat dit wat oor was in sy oogkas die volgende dag in die Jakaranda Hospitaal verwyder is. Tot vandag toe weet hy nie wie het hom met die glas geslaan nie.

• Skillie van der Merwe is in 2006 by Tracers met die vuis op die oog geslaan en sy regteroog is vier maande later verwyder.

Hy wou ook bakleiers uitmekaar haal en een het hom met die vuis op die oog geslaan. Sy oogbal het gebars en hy het dadelik geen sig gehad nie.
Alhoewel die saak hof toe is, het die landdros dit uit die hof gegooi, omdat dit vir hom gelyk het na ’n kroegbakleiery.

Louis Groenewald – doodgeslaan.

• Louis Groenewald het in Maar 2013 weens breinbloeding gesterf, nadat hy die vorige dag deur Freddie Kidson naby Sideline-nagklub katswink geslaan is. Kidson is ’n opgeskorte vonnis opgelê.

• Antoon Viljoen is in April 2013 bebloed geslaan by Amazon’s Restaurant.

• In Julie daardie selfde jaar moes Jaco Weyers steke kry, nadat hy ’n gapende wond aan sy kop opgedoen het by die Suits-kuierplek. Hy het gedink hy het geval, maar ’n vriend het later gesê dat hy gestamp is en met sy kop teen ’n pilaar en trapreling geval het.

• Dewald Jacobs het in September 2014 in sy matriekjaar selfmoord gepleeg, nadat hy deur twee mans buite Burger Hut aangerand is. Die vernederende aanranding is op videokamera vasgelê.

Ferdi van den Berg.

• Ferdi van der Berg moes in September 2016 ’n operasie aan sy oogbank ondergaan, nadat hy by die Middelburg Buiteklub aangerand is.

Abri Beukes.

• Abri Beukes is in Junie 2018 só erg aangerand in die Suits-kuierplek, dat hy ’n operasie in die Wilgers Hospitaal moes ondergaan. Sy wangbeen moes met plate weer op sy plek geskuif word weens ’n ernstige fraktuur en sy oogbank en die been in sy wenkbrou is gekraak.

• Riaan Bezuidenhout en Bret Alberts is in September 2019 by die Tracers Biker Bar aangerand. Riaan het ’n gebreekte kakebeen en harsingskudding opgedoen en Bret is behandel vir harsingskudding en snymerke bo sy linkeroog.

Dirk Kotze.

• Dirk Kotze is in Maart verlede jaar met ’n glas in die gesig geslaan toe hy ’n geveg in die parkeerarea naby Hoofkantoor wou stop. Sy oog is byna heeltemal uitgeruk toe hy van die kant af met ’n glas geslaan is.

• Etlike maande later is Coenraad Oosthuizen se kakebeen op twee plekke gebreek na ’n vuishou en moes sy kakebeen met ’n plaat geheg word. Die geveg was buite die Oppi Plaas-kuierplek.

Bowen Kruger.

• Die talentvolle sportman, Bowen Kruger, is in Julie 2022 ook met ’n glas in die gesig geslaan. Sy hoofslagaar is net gemis en hy moes steke kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button