Kleine Ashley kort dringend ’n hartoperasie
Sonder ’n dringende hartoperasie sal vier-maande-oue Ashley Meerkotter waarskynlik nie langer as vier jaar lewe nie.
Ashley se ma en pa, Elmarie en Adriaan, doen ’n beroep op finansiële bystand, sodat hulle baba dogtertjie oor twee maande vir die operasie kan gaan wat haar lewe sal red.
Ashley is met ’n ventrikulêre septale defek (’n gaatjie in haar hart) gediagnoseer, nadat sy verskeie kere ophou asemhaal het.
Adriaan vertel dat die gaatjie in Ashley se hart tussen twee van die hartkamers lê, wat veroorsaak dat die suurstofgevulde bloed tussen die twee kamers pomp. Dit veroorsaak ’n gebrek aan suurstof na die res van haar lyfie.
“As hulle die gaatjie nie herstel nie, dan sal Ashley se ander organe stelselmatig ingee, en sy sal nie langer as vier jaar lewe nie. Sy het ook nodig om vir die operasie te gaan tussen ses en agt-maande oud, maar die kardioloog stel voor dat dit op ses maande gedoen word.”
Met verwysing van die professor wat Ashley se diagnose gemaak het, het die Nelson Mandela Kinderhospitaal in Johannesburg ingestem om die operasie te doen.
Adriaan het egter sy werk verloor, en hulle gesin kort dringend befondsing vir Ashley se nasorg en om ander uitgawes soos verblyf en medikasie te dek, terwyl sy in die hospitaal is.
Ashley sal van ’n maand tot twee maande in die hospitaal moet bly, en haar ouers beoog om minstens R150 000 in te samel.
“Ons harte is stukkend en ons vra asseblief dat mense sal help om vir Ashley ’n tweede kans op lewe te gee.”
’n BackABuddy rekening is vir Ashley gestig en finansiële skenkings kan aan https://www.backabuddy.co.za/ashley-meerkotter-563320421690928861 gemaak word.
@elmarieashley
