‘Slagoffer’ is toe al die tyd die dief
In ’n vreemde sameloop van omstandighede, het ’n gesteelde kar op die Bethalpad buite Middelburg gerol en het die ‘dief’ hom later as ’n slagoffer van ’n kaping voorgedoen.
Daar is gevra vir ’n ambulans op die Bethalpad nadat ’n kar Sondag gerol het.
Daar is vir die joernalis gesê dat ’n man, wat langs die pad geloop het, vir die ambulans gewys het om te stop en dat hy vir hulle vertel het dit is hy wat in die ongeluk was.
Hy het klaarblyklik ook gesê dat hy die slagoffer is van ’n kaping en dat die kapers die kar, met hom nog daarin, gerol het.
Hulle het hom opgelaai en gevat tot by die ongelukstoneel.
Daar was egter niemand anders by die wrak nie en hy het hulle laat verstaan dat die kapers weg gehardloop het na die ongeluk.
Die man is na die Middelburg Hospitaal geneem vir behandeling.
In hierdie selfde tyd is die polisie in kennis gestel dat ’n voertuig op Bethal gesteel is vroeër die dag.
Tydens die ondersoek is bevind dat dit dieselfde kar is wat gerol het op die Bethalpad.
Daar is gesoek na die verdagte by die Middelburg Hospitaal, maar hy het intussen spoorloos verdwyn.
• Enige persoon wat meer inligting het oor die presiese gebeure of aan wie die voertuig behoort het, kan Daleen Naudé bel by 013 243 1434 of 072 248 3855 of stuur ’n e-pos na daleen@mobserver.co.za.
