Jong pa doodgeskiet – dossier hof toe, terug na polisie toe, dan weer hof toe…
Die dossier wat die ondersoek hanteer van Gerhard Coetzer (29), wat op 27 April 2018 tussen partytjiegangers in Walter Sisulustraat doodgeskiet is, is weer teruggestuur.
Afriforum se privaatvervolgingseenheid het verlede jaar laat weet dat hulle Gerhard se saak sal laat hersien.
Verlede week is daar weer navraag gedoen by die nasionale vervolgingsgesag en is gesê dat die polisie die dossier op 23 Junie weer ingehandig het.
Die dossier is egter wéér deur die landdros teruggestuur vir uitstaande inligting.
Die persoon wat Gerhard daardie dag doodgeskiet het, is nooit aangekla nie, al weet almal wat daar was wie hom geskiet het. Daar was ook kinders in die groep en een van die mans het ’n floute gehad na die gebeure.
Sy vrou, Bianca, hou vol dat ’n persoon by die partytjie met ’n wapen gespeel het en twee skote afgegaan het.
Me. Coetzer het gesê dat een skoot deur ’n buitekamervenster is en die ander een haar man getref het. Gerhard het op die toneel gesterf.
Die polisie het later die koeëlpunt in die buitekamer gevind.
• Gerhard is voor sy driejarige seuntjie, Ronaldo, doodgeskiet. Daar het eers nege maande na die gebeure ’n forensiese maatskaplike werker met die kind oor die gebeure gepraat.
Gerhard se dogtertjie, Biané, was twee jaar oud tydens die skietery.
• Ronaldo is nou agt en Biané, is vyf jaar oud.