Man wat Rocky in straat doodgery het, steeds nie aangekeer
Afriforum se privaatvervolgingseenheid gaan Rocky van der Nest se saak laat hersien.
Dié eenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel, is genader deur Rocky se swaer, Johan Steinman, om antwoorde te kry.
Mnr. Van der Nest is op 2 Oktober 2021 in Keiskammastraat deur ’n BMW raakgery. Die bestuurder van die voertuig het gestop, maar weggejaag, toe inwoners wat daar naby woon, uit hulle huise kom.
Vroeg die volgende oggend het mnr. Van der Nest aan sy beserings beswyk.
Afriforum se eenheid sê dat dit onduidelik is waarom die bestuurder van die voertuig nog nie aangekla is vir strafbare manslag nie. Hulle voel daarom ook dat die saak nie die nodige aandag kry wat dit verdien nie.
Die familie het vir Afriforum gesê dat hulle in Maart 2022 deur die polisie in kennis gestel is dat hulle in besit is van ’n lasbrief vir arrestasie, maar dat dit “’n sensitiewe saak is” en dat ’n arrestasie eers later sal volg.
Top op hede is daar nog nie ’n arrestasie gemaak nie,
Afiforum se privaatvervolgingseenheid het dit duidelik gestel dat hulle nog nie die dossier onder oë gehad het nie en dus nie ’n mening kan gee oor die kanse van ’n suksesvolle vervolging nie.

“Ons deel egter ons kliënte se ontevredenheid met die afwesigheid van terugvoer van die polisie ten opsigte van die saak.”
• Die BMW wat Rocky doodgery het, is in Februarie 2022 in Midrand opgespoor. Kort daarna is die eienaar van die voertuig, daar is destyds gesê dit is ’n vrou, opgespoor.
Sy het klaarblyklik onthul dat sy nie die voertuig bestuur het nie, maar ’n man, en dat sy nie weet waar hy hom bevind nie.
Die ondersoek het die polisie gelei na eMalahleni.
’n Man het homself in Junie verlede jaar gaan oorgee, maar die saak is nie op die hofrol geplaas nie, omdat daar gewag word vir die lykskouingsverslag en ’n onafhanklike verklaring.
• Die persoon wat Rocky raakgery het, het die aand voor die gebeure, eers by ’n vulstasie gestop, waar hy ’n kaarttransaksie gedoen en teruggeklim het in die silwer BMW. Kort daarna is Rocky raakgery.
Daar is in Maart hierdie week navraag gedoen by brig. Selvy Mohlala (provinsiale polisiewoordvoerder) oor waarom die saak so lank sloer en het hy nadat hy met die ondersoekbeampte gepraat het, die volgende antwoorde verskaf:
• Daar was wel videomateriaal wat die polisie by die vulstasie gaan haal het, maar dit was onduidelik.
• Die videomateriaal van die BMW het aangedui dat die voertuig nie ‘n registrasienommer gehad het nie.
• Die persoon wat die BMW bestuur het, het ’n masker gedra toe hy by die geriefswinkel in is om iets te koop en sy gesig was nie duidelik op die videomateriaal nie.
• Hy het gesê ’n hofbevel om ’n kaarttransaksie van ’n bank of besigheid aan te vra, vat lank en die ondersoekbeampte kon nie onthou wanneer hy daarvoor aansoek gedoen het nie.
• Omdat die persoon onherkenbaar was en die BMW nie ’n registrasienommer gehad het nie, moes die ondersoekbeampte met die hulp van informante sy inligting kry.
• Na aanleiding van die voertuig se opsporingstelsel van die BMW, het brig. Mohlala in Maart gemeld dat die ondersoekbeampte op daardie stadium steeds probeer uitvind het watter opsporingstelsel die voertuig het.
