Minderjariges spuit vloekwoorde op mure
Twee sewentienjarige seuns wat betrokke is by vandalisme by huise, is deur reaksielede van Mid Alarms vasgetrek.
Mnr. Johan Oberholzer (Operasionele bestuurder, Mid Alarms) sê die jong mans is nie aangekla nie, omdat hulle minderjarig is en die polisie het hulle in die sorg van hul ouers vrygelaat.
Reaksielid Albert Muller het net na middernag (Maandagnag, vroeë oggendure Dinsdag) uitgery na ’n alarm gedurende beurtkrag in Jeppestraat
Op pad soontoe het ’n inwoner hom gestop en inligting gegee dat daar twee jong mans is wat al vir meer as twee weke mense se huise vandaliseer.
Hy het gesê dat hulle klippe gooi op dakke, vensters uitgooi en vloekwoorde spuitverf op hekke en mure. Hulle het ’n vloekwoord op sy hekke gespuitverf.
Die inwoner het ’n klerebeskrywing van een van die verdagtes gegee.
Albert het per radio sy kollegas oor die klagte ingelig en reaksielid Pieter Roux het op die hoek van Hoog- en Jeppestraat op dieselfde tyd twee jong mans sien loop. Die een se klerebeskrwying het dit wat deurgegee is, gepas.
Die persoon wat hulle gesien het, het saam met Albert gery om hulle uit te ken.
Hy het hulle positief uitgeken en die seuns het later rooigesig erken dat dit hulle was. Hulle het selfs aangebied om die hekke te gaan skoonmaak.
Mnr. Oberholzer sê seuns het aanvanklik geweier om hul adresse te gee en het later selfs verkeerde adresse gegee.
Die polisie is gevra om na die toneel te kom, waarna die seuns se familie opgespoor is. Daar is onderhandel met die ouers om die skade te betaal, aangesien die seuns nog op skool is.
