Vermeende kabeldief onder brug vasgetrek
Die reaksielede van Bravo-skof van Mid Alarms het Dinsdag in die vroeë oggendure ’n vermeende kabeldief onder die brug in Samora Machelstraat vasgetrek.
Mnr. Johan Oberholzer (Operasionele bestuurder, Mid Alarms) sê die verdagte is omstreeks 03:00 gevang toe een van Mid Alarms se lede oor die brug gery en rook gesien het.
Reaksielid Pieter Roux was op pad na ’n alarm in Aerorand en het swart rook gesien wat onder die brug uitborrel.
Hy het dadelik gestop en ’n reaksielid van Titon Sekuriteit, Martin Meintjes, het agter hom gestop.
Mid Alarms reaksielid, Richard Bredenhan het ook by hulle aangesluit en hulle het opgemerk daar word kabels onder die brug gebrand.
Voordat die verdagte weggehardloop het, het Martin duidelik sy gesig en klerasie gesien.
Op daardie tydstip was reaksielid Albert Muller by ’n ander eiendom in Cowen Ntulistraat en het gesien dat daar ’n man oorkant die pad rondsluip.
Hy het vir Richard laat weet dat die persoon die beskrywing pas en die verdagte is gearresteer.
Richard en Martin het intussen die koperkabels by die polisiestasie gaan inhandig en Martin het die vermeende kabeldief positief uitgeken.
• Thabo Matsane (32) het Dinsdag vlugtig in die hof verskyn. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.