Kaptein Grobler “was soos ’n pa vir sy lede”
Kaptein Johann Grobler, die welbekende Duikpunt Bevelvoerder in die Nkangala Streek, is vanoggend in die vroeë oggendure oorlede.
’n Skolgolf het deur die hele streek getrek toe sy kollegas en lede wat onder hom gewerk het, verneem het dat hy weens ’n hartaanval gesterf het.
“Ek werk al van 2009 af saam met kapt. Grobler by die watervleuel. Ek sal hom onthou as ’n goeie bevelvoerder. Hy was soos ’n pa vir vir ons lede en het altyd omgegee vir ons. Hy was altyd daar met raad,” het sers. Franshua Joubert gesê.
Kapt. Grobler sou in Desember hierdie jaar 40 jaar diens by die Suid-Afrikaanse Polisiediens gehad het.
• Kaptein Grobler en sy span was welbekend in die Nkangala Streek, wat Middelburg ingesluit het.
Almal sal onthou hoe kapt. Grobler en sy span in September 2020 vir dae lank saam met ander eenhede van die polisie gesoek het na die lyk van Henry Mikwanda (31) in die Middelburgdam.
Henry het verdrink en die duikspan het vir dae lank na sy lyk gesoek. Sy oorskot het 21dae later opgekom.
Op 20 September 2021 het kapt. Grobler vir lewe en dood teen sy kapers in ’n bos in Vosman geveg en weggejaag, terwyl daar op hom geskiet is.
• Tydens ’n onderhoud met kapt. Grobler in 2020 het hy net met lof gepraat van sy span polisieduikers, ’n gespesialiseerde groep lede wat soms in ongemaklike plekke en spasies moet ingaan om die oorskot van ’n oorledene te soek.
Hy het destyds gesê dat hulle deur die jare al vreemde plekke moes trotseer om na lyke te soek.
Kapt. Grobler het genoem dat sy span al lyke uitgehaal het by rioolplasse, in ’n hoenderfabriek se afval, mense in riviere gaan soek waar krokodille en seekoeie krioel, vloedwater, putte, skagte en selfs klein spasies soos tonnels trotseer het.
Die manier wat kapt. Grobler en sy span tonele hanteer het, het altyd die grootste respek afgedwing.
Hy was voorwaar ’n legende in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
