Afriforum maak hande vuil vir DBV saam skoonheidskoningin
AfriForum se Middelburg-tak het die hande gevat met Me. Mpumalanga Toerisme Koningin, Naomie Steenkamp, tydens ’n projek by die dorp se Dierebeskermingsvereniging (DBV), waar broodnodige opknappings gedoen is.
Die DBV se geboue val uitmekaar en het dringend onderhoud nodig, maar die organisasie het nie die geld om dit te laat doen nie.
Al hulle fondse word op die diere se kos, mediese uitgawes en algemene welstand spandeer.

“Van die geboue is erg gekraak en die verf dop af. Daarom het lede van die Afriforum Middelburg-tak besluit om in te spring, die geboue te begin afskuur en die krake met kraakvuller op te vul. Dit is die minste wat ons kan doen,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
Die tak het reeds die verf om die geboue oor te verf aangekoop, en beoog om die projek oor die volgende paar weke af te handel.

“Die DBV het ons hulp nodig om aan te hou met hulle belangrike werk, sonder om hulself oor die geboue te bekommer,” sê Mike Ebersohn, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.
