News

Trein ontspoor, nou word steenkool gesteel

Net ’n paar dae nadat Johan Janse van Rensburg, ’n dief gevang het, het hy dieselfde man wéér op heterdaad betrap.

Johan was hoogs ontsteld terwyl hy vertel het dat hy die dief nie een keer nie, maar twee keer in ’n week se tyd gevang het.

“Die eerste keer het ek hom vir die polisie gegee en ’n saak gemaak en het die boodskap gesê hy sou in die hof verskyn. Maar hy is uit en het net weer kom steel!”

Verlede Dinsdag is twee konkas by die Middelburg Stasie gesteel en het CCTV-kameras duidelik gewys wie die skuldige is.

Johan het afdrukke gemaak en by verskillende besighede ingegee en gevra dat hy dadelik gekontak moet word, sou iemand die verdagte herken.
Donderdagoggend het ’n bron hom laat weet dat die verdagte opgemerk is onder die brug naby die silo’s in Samora Machelstraat.

Hy het die verdagte daar gekry en die man het aan hom erken dat dit hy was, maar dat hy reeds die twee konkas vir R40 verkoop het.

Die man het erken dat hy die konkas gesteel het. Sy gesig word verbloem, omdat dit onseker is of hy in die hof was.

“’n Besigheid het die netjiese konkas vir die stasie geskenk! As jy een nuut gaan koop, kos dit R1 500!”

Die polisie het die verdagte kom arresteer en Johan het ’n SMS gekry dat die verdagte Maandag in die hof sal verskyn.
Dinsdagmiddag het hy ’n oproep gekry dat dieselfde verdagte (met dieselfde klere nog aan) opgemerk is by die goederewaens by die ou silo’s.

“Hier staan seker omtrent 50 goederewaens met steenkool op vanaf die stasie tot by die ou silo’s op die spoorlyn. Dit kan nie weg nie, want die spoorlyn is tans gesluit met die goederewaens wat ontspoor het by Waterval Onder. Nou word die steenkool in die waens gesteel!”

Hy het gejaag na waar die verdagte opgemerk is en dadelik die persoon herken wat die konkas gesteel het.

“Die man het ’n 50kg sak met steenkool gedra, maar die oomblik toe hy my sien en herken, het hy soos blits weggehardloop.”

• Dit is op hierdie stadium onseker of die man wel in die hof verskyn het en mag sy gesig nie gewys word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button