Video: Foto’s van verloofde wat weens kanker sterf, op gesteelde selfoon
’n Dief het ’n selfoon gesteel met foto’s op wat nooit weer vervang kan word nie.
Me. Patricia Smit het hartseer gesê dat sy nooit weer die foto’s van haar verloofde sal terugkry nie, omdat hy oorlede is.
Die dief het Vrydag omstreeks 16:45 by Hyper Meat & Chicken ingekom en haar foon gevat wat besig was om te laai. Sy was in ’n ander deel van die winkel besig.
Met haar terugkeer het sy aanvanklik gedink dit is een van haar kollegas wat vir haar ’n poets gebak het, maar dit was nie en het sy besef dat al haar mooi foto-herinneringe weg is saam met die gesteelde foon.
Haar verloofde, Roelof Jackson, het in 2019 vir haar die selfoon gekoop as ’n kersgeskenk.
Op 30 Julie 2022 is hy weens pankreaskanker oorlede.

“Al die foto’s en video’s van ons laaste drie maande saam was daarop. Dit is onvervangbaar, my hart is só seer”
Buiten die selfoon en sentimentele foto’s wat weg is, was haar bank- en ander kaarte, soos haar kragkaart, ook in die selfoon se omhulsel.
As enigiemand die kaarte optel of die dief probeer die selfoon aan hulle verkwansel, kan hulle Patricia kontak by 073 896 6957.
• Die selfoon wat gesteel is, is ’n Samsung Galaxy J4 Core.
• Patricia het die CCTV videomateriaal van die diefstal beskikbaar gestel. Dit is op stadige tempo gestel en afgeneem, sodat ’n mens duidelik kan sien wie die dief is en hoe hy die selfoon steel.
