News

Man wat yskas wou koop en toe koop hy ’n hotel, oorlede

Die man wat in 1985 ’n yskas op ’n insolvente veiling wou koop en toe koop hy sommer die hele hotel, is gisteraand oorlede.

Barrie Viviers (82) was nie net die eienaar van Olifants Hotel (Olifants River Lodge) nie, maar vlieënier, boer, entrepeneur en ’n slim sakeman wat ’n groot sakeryk opgebou het.

Hy het ’n week gelede ’n beroerte gehad en sy skoondogter, Priscilla Viviers, het vanoggend op ’n WhatsApp-groepie wat sedert sy beroerte begin is, om 6:45 gesê dat mnr. Viviers gisteraand in die Life Midmed Hospitaal oorlede is.

Olifants River Lodge, wat vandag een van die spog oorde in die omgewing is, het in 2015 sy 30ste verjaardag gevier.

Mnr. Viviers het nooit gedink dat hy destyds die hotel aan die rand van die Olifantsrivier sou koop nie.

Barrie en The Viviers saam met oudburgemeester Mika Masina by Olifants River Lodge.

“Ek het na ’n yskas gesoek vir Hotel Christo op Bethal. Die oomblik toe ek oor die randjie kom en die potensiaal van die plek sien, het ek besluit om die hotel te koop!”

Mnr. Viviers het in 1959 in Johannesburg gematrikuleer. Hy is na die myne, waar hy hom gekwalifiseer het as ’n mynventilasie offisier in die goudmyne. Met ’n diploma agter sy naam, het hy by die Rand Mines Navorsingslaboratorium gaan werk, waar hy onder andere navorsing kom doen het by die destydse RMB (nou Columbus Stainless).

In 1969 breek hy weg om sy besigheid te begin met slegs R300 in sy sak onder Barviv (afgelei van sy naam). In dieselfde jaar is hy getroud met Thea.

Met hierdie besigheid het hy die dekor van hotelle gedoen, met die kennis wat hy van sy ma en pa opgedoen het. Sy pa was ’n skrynwerker en sy ma ’n naaldwerkster wat haar toegespits het op die maak van trourokke.

Barrie Viviers was ook ’n liefhebber van veteraan voertuie.

Later het hy ’n Duitse houtwerkfabriek gekoop om meer professionele mense, wat oor goeie vakkennis beskik, te betrek by sy onderneming.

Vroeg in 1985 het hy Hotel Christo in Bethal gekoop en Desember van daardie jaar het hy sy yskas én hotel by Olifants gaan koop.
Die omgewing het hom egter welgeval en hy het stadig maar seker sy belange in Johannesburg verminder. Hotel Christo is ook later verkoop.

Mnr. en me. Viviers het deur die jare ook die moedermaatskappy, Barthea (na aanleiding van hul name) begin.

Hy laat sy vrou Thea, seuns en hulle gades Pierre en Priscilla, Etienne en Tanya, Marcel en Vania, kleinkinders en agterkleinkinders agter.

Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button