Nog ’n dwelmverslaafde dood op straat gekry
Hulle word dood gekry in stegies, in toilette van winkelsentrums en op straat.
Bedags bedel hulle op straathoeke en in die aande steel hulle koperkabels en solarligte om te verkoop vir ’n volgende fix.
Die soveelste vermeende dwelmverslaafde lê in die staatslykshuis, ongeïdentifiseer. Sy liggaam oortrek met naaldmerke, die getuienis van verslawing, sy lyf ingekleur met tatoeërmerke.
Hy is Saterdag dood gekry in Jeppestraat.
Hy het verskeie lae klere aangehad, waaronder ’n blou oorpak en reflekteerbaadjie.
Die man, wat skraal gebou is en geskat word tussen 35 en 40 jaar oud, het blonde hare, ’n tattoeërmerk van ’n kruis op sy een skouer en ’n tattoeërmerk op sy bors.
Indien ’n familie iemand vermis word hulle gevra om na die Polisiestasie toe te gaan.
Die Middelburg Observer joernaliste kan ook geskakel word by 013 2431434 indien iemand inligting het oor die man.
•Ongeïdetifiseerde persone word na ’n tyd as armlastiges begrawe,
•Nadat die Suid-Afrikaanse Narkotiese Buro in die negentigerjare ontbind is, was daar ’n belofte van die Polisie dat dwelmmisdade op stasievlak hanteer sou word. Daar het niks van gekom nie en Suid-Afrika sit vandag met ’n dwelmprobleem met ongekende afmetings.
