Mel in Huisgenoot!
Middelburg se eie Melanie du Toit, bekend as “Mel die Storieverteller”, is besig om landwyd opslae te maak met haar komediese sketse wat op wêreldwye plaforms te sien is.
Daar word gesê jy het dit gemaak wanneer jy in Huisgenoot verskyn het en nou het die gesinstydskrif ’n artikel gepubliseer oor haar gekskeerdery met die Real Housewives van Pretoria.
Melanie is bekend vir haar komedie en haar huidige vertoning – Almal is Mal – is besig om landwyd te toer.
Middelburg, as Mel se tuisdorp, het egter voorkeur geniet toe die Almal is Mal-vertoning, wat vinnig uitverkoop het met sy debuut by the Atterbury Teater, op 22 Junie, by Hoërskool Middelburg op die planke gebring is.
Al is die vertoning ’n komediese skets, is Mel bekend om ’n dieper boodskap aan haar gehoor oor te dra.
“Ek steek die draak met skynheiligheid, dubbele standaarde en aanlyn geboeliery, maar dis belangrik dat die gehoor altyd probeer oopkop bly en om nie bang te wees om die foute in hulleself raak te sien nie.”
“Almal is Mal” sal vir die volgende twee maande die land deur toer, maar Mel werk reeds aan ’n tweede teks wat in September by die KleinKaap in Pretoria sal debuteer.
Sy skryf self die teks vir haar aanlyn videos en vertonings, skryf kinderboeke, en het ’n potgooi begin wat “Dinner en Skinner” genoem is, saam met Edo Mostert en JouSaffaMamma, wat op Spotify, iTunes en YouTube beskikbaar is.
Die volledige program vir die Almal is Mal-toer kan ook op Mel Die Storieverteller webblad gesien word vir dié wat haar besoek aan Middelburg misgeloop het.
Mel se berig in die Huisgenoot kan in hulle uitgawe van 13 Julie gesien word.
