News

Almal het ma’s, familie, vriende…maar waar is hulle?

Die polisie soek na die familie van ’n middeljarige man wie se liggaam gistermiddag hangende aan ’n boomtak in ’n bloekombos langs die Middelburg tolplaza gevind is.

Hy is een van drie daklose swerwers wie se liggame in die afgelope ses weke in die Middelburg omgewing gevind is.

Die man is in 1971 gebore en volgens betroubare inligting het die oorledene homself bekend gestel as Ashley.
Die ingligting het aan die lig gekom nadat ’n Bybeltjie met ’n telefoonnommer in ’n togsak langs die liggaam gevind is.

Die nommer was die van ’n goedhartige Samaritaan wat die swerwer drie jaar gelede ’n rygeleentheid uit Barberton na Nelspruit gebied het.
Volgens die man het die oorledene aan hom vertel dat hy op pad was na sy familie in Nelspruit.

Hy het egter geen idee gehad wat van die ryloper na die rit geword het, of hoe hy eindelaaste in die Middelburg omgewing opgeëindig het nie.

’n Huishoudster werksaam op die plaas van wyle Dolf Rossouw, het gistermiddag omstreeks 16:00 op die liggaam afgekom, terwyl sy hout in die area by mekaar gemaak het.

Hy was geklee in ’n netjiese uitrusting wat bestaan uit ’n swart en rooi baadjie, swart broek en bruin skoene.
Hy het ook swart en rooi handskoene aangehad toe die liggaam gevind is.

Die blou togsak lyk ook redelik nuut, is blou met wat lyk na die woord Surf, in wit, daarop.
Die man het ook ’n netjiese gemanikuurde snor.

Die liggaam was reeds in ’n gevorderde staat van ontbinding.

Daar word gehoop dat die beskikbare inligting oor Ashley genoeg is om tot sy formele identifikasie sal kan lei.

Die proses vir toestemming vir armlastige begrafnisse word gewoonlik tussen 30 en 60 dae nadat die liggaam gevind is aan die gang gesit.
Indien die polisie wel die liggaam kan identifiseer volgens vingerafdrukke, of tatoeëermerke, word die liggaam effens langer deur patologiedienste geberg.

Persone met inligting oor “Ashley” word gevra om hul naaste polisiestasie te skakel.

•Omstreeks ’n maand gelede is die liggaam van ’n hawelose man by die Walter Sisulustraat-brug gevind.

•Verlede Saterdag is nog ’n liggaam van ’n onbekende man langs die pad in Jeppestraat gevind. Die liggaam kan moontlik weens tatoeëermerke op sy skouer en bors uitgeken word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button