As jy krag het, het jy nie water nie en as jy water het, het jy nie krag nie…
Honde koud in DBV hokke, want krag is af.
Gee ons krag!, sê die Dierebeskermingsvereniging se honde so al blaffende.
’n Groot hoop hondekomberse by die DBV kan nie gewas word nie, want die krag is af!

Boonop het hulle vir twee dae ook nie water gehad nie.
“Julle moet kom kyk hoe lyk dit hier in Mineralia! Jy het krag óf water, maar nie altwee nie,” het ’n moedelose senior inspekteur Petro Oberholzer (bestuurder DBV) vanmiddag gesê.
Van Sondag af was die area by die DBV sonder water en kon hulle nie die honde- en kathokke was nie.
Senior inspekteur Oberholzer en een van haar personeellede bly ook op die perseel en was dit ’n gesukkel om alles skoon te kry.
“Toe ons Dinsdag uiteindelik water kry, toe gaan die krag af!”
Dinsdag om 05:00, na beurtkrag, het die ligte net so ’n paar minute aangegaan, waarna dit afgegaan het.
“Ons het sedertdien nie krag nie. Ons ys- en vrieskaste is afgesit en ons weet nie of ons skade aan enige van ons elektrieseware het nie.”
Nadat ’n kragkabel ’n vorige keer met alluminiumkabels vervang is, het die boef wat hom Dinsdag probeer afkap het, gesien dit is onbruikbaar en dit net so gelos.
Die kabel is sedertdien oop en vrees sy dat ’n kind daaraan kan vat.
“Ons kry so 160 volts, wat beteken dat ons ons selfone kan herlaai en ek my bedlampie kan aansit. Maar ons kan géén ander elektriese artikels aansit nie. Ons hondekomberse lê al op ’n hoop, ons kan geen administratiewe werk doen nie én ons telefoon is dood! Dink net wat gaan gebeur as ’n kind aan daardie kabel vat en doodgeskok word. Wie gaan verantwoordelikheid neem?”

Daar is al tot vervelens toe navraag gedoen by die munisipaliteit.
“Janet Mentz (VF+) het dit al Dinsdagoggend 07:00 gerapporteer en die ander raadslede, soos Deon van der Merwe en Hennie Niemann, het al alles probeer. Die munisipaliteit sê die hele tyd ’noted’ as hulle in kennis gestel word, maar hulle was nou nog nie hier nie!”
• Die raadslede, wat almal in ’n raadsvergadering is, het pas laat weet dat hulle nou net per WhatsApp weer navraag gedoen het oor die probleem.
