Eens trotse Rooies baklei vir die houtlepel – jonges heel laaste
Hoërskool Middelburg sal Saterdag teen Montana wil vergoed vir sy nederlaag verlede week teen die sterk span van Kempton Park wanneer hy die Pretorianers op sy tuisveld pak.
Die program skop om 8:00 af op Middies se sportvelde met die o/14 spanne wat om 8:00 in aksie is.
Die res van die program is:
A-veld.
9:00 Derde span.
10:10 o/15A span.
11:10 Tweede span.
12:20 o/16A.
13:35 Eerste span.
B-veld.
8:00 o/15 B span.
9:00 o/16B.
10:10 o/14C.
11:10 o/14B.
Intussen lyk sake nie te rooskleurig vir die twee plaaslike skole in die Noordvaal liga se plaatafdeling nie na die vyfde rondte.
Onder die eerste spanne is Rustenburg die voorloper gevolg deur Kempton Park, Transvalia en Hoërskool Middelburg.
HTS Middelburg wat eens op ’n tyd teen die groot honde soos Monnas geblaf het, is tweede laaste met net drie punte en Klerksdorp laaste sonder dat hy al enige punte op die punteleer het. Tegnies het verlede naweek naelskraap, met een punt, teen die Noordwesters gewen.
Met die tweede spanne is Rustenburg ook bo aan die punteleer met Middies sesde en HTS Middelburg weer tweede laaste.
Transvalia is bo aan die punteleer vir o/16A spanne met Hoërskool Middelburg derde en HTS Middelburg andermaal tweede laaste.
Rustenburg is ook bo aan die punteleer vir o/15A spanne met Middies vyfde en HTS Middelburg tweede laaste.
HTS Middelburg se o/14A span het ’n swak seisoen en is laaste op die punteleer met Hoërskool Middelburg in die vierde plek.
Die kragmeting Saterdag tussen Montana en Hoërskool Middelburg gaan ’n goeie aanduiding wees hoe sake staan met Montana wat 12 punte het na vyf wedstryde en Middies op 10 punte na vier wedstryde.
Die Groenspan kan sy posisie aansienlik verbeter met ’n oorwinning.
