News

Keelvol inwoners bereik breekpunt oor dienslewering

Middelburgers is besig om breekpunt te bereik oor “swak dienslewering” die afgelope tyd.

Gister was Dennesig die hele dag sonder water en alhoewel daar beloof is dat die water teen 20:00 sal terug wees, het dit eers vanoggend 02:00 aangekom.

Inwoners het teen die Steve Tshwete Munisipaliteit te velde getrek en die algemene boodskap was: “Ons is gatvol!”

Oral bars pype en met die erge probleem van kabeldiefstalle kan daar ook nie voorgebly word om die krag aan te hou nie.

Saterdagaand het ’n vrou uit moedeloosheid ’n joernalis gebel omdat sy nie meer geweet het wat om te doen nie.
’n Kabel is gesny tydens beurtkrag Saterdagoggend op die hoek van Plein- en Suidstraat.

Dit is talle kere gerapporteer en daar is selfs die hulp van ’n privaat elektrisiën ingekry om te gaan kyk.

“Die klagtelyn het later nie meer geantwoord as ek probeer bel het nie. As ek van ’n ander foon af gebel het en hulle antwoord, het hulle net die foon neergesit,” het die vrou (wat verkies om anoniem te bly) gesê.

Sy was rasend van bekommernis, want die een kragkabel was lewendig en het die elektrisiën vir hulle gesê dat as ’n kind daaraan sou raak, sou hy beslis doodgeskok word. Die vrou het kort-kort mense wat verby geloop het, gewaarsku om nie naby die kabel verby te stap nie.

Na aanhoudende navrae deur raadslede San-Mari Wait en Hennie Niemann, is die kabel teen 20:30 Saterdagaand herstel en het die gesin krag gehad.

• Die Dierebeskermingsvereniging het vanaf Sondag tot Dinsdag nie water gehad nie. Van Dinsdagoggend af het hulle ook nie krag nie.

• Die klagtes is deurgestuur na die munisipaliteit se mediakantoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button