’n Skokkende prentjie wat pastoor altyd sal bybly
Die oorskot van ’n “vuil jong man” wie se een vinger al deur rotte afgevreet is, sal past. Jannie Jacobs altyd bybly.
Past. Jacobs het gister gaan kyk of hy nie dalk die onbekende jong man, wat twee weke gelede in ’n veld in Jeppestraat gekry is, herken nie.
Hy is al jare aan die stuur van sake by die Oorwinnaars Halfweghuis vir dwelmverslaafde mans en het al met talle verslaafdes te doen gekry.
“Dit het gelyk of hy in pyn was voor hy dood is. Dit blyk dat hy ten minste twee dae in die veld gelê het, want sy een vinger aan sy linkerhand is reeds deur rotte gevreet.”
Hy het gemeld hoe hartseer dit is dat die jong man op hierdie manier moes sterf en dat sy familie nog nie opgespoor is nie.

“Dit is nie wat die Here beplan het vir hom nie.”
Past. Jacobs sê hy wens hy kon vir alle jong mense, wat met dwelms wil eksperimenteer van hierdie hartseer prentjie vertel.
“Net één keer se gebruik is eenkeer te veel, want net dalk kan jy in ’n veld opeindig, sonder jou mense en eers twee dae later gekry word.”
• Die jong man wat in die veld gekry is, word geskat op tussen 35-40 jaar oud.
Hy is blond, skraal gebou en het erge sonverbranding, soos baie dwelmverslaafdes het as hulle dae lank in die son deurbring om te bedel.
Op sy regterskouer is ’n tatoeërmerk van ’n kruis en daar is ’n ‘M’ aan die binnekant van die arm.

Daar is ’n naam van iemand geskryf op die linker binne-arm vanaf die skouer tot by die pols, wat lyk of dit ’n ‘C’ en ’n ‘H’ van die begin van die naam is. Die naam kan egter nie duidelik uitgemaak word nie.
Inligting is bekom dat die jong man gereeld gesien is by die verkeerslig op die hoek van Cowen Ntuli- en John Magagulastraat, onderkant KFC.
• As die beskrywing ’n persoon wat vermis is, pas, gaan dadelik na die Middelburg Polisie en reël om die man te gaan uitken.
• Daar is verskeie verslaafdes se name genoem, wat lanklaas gesien is, maar niemand het hom nog positief gaan uitken nie.
