News

Beskuldigdes in Papapavlou moordsaak almal saam in hooggeregshof

Die vyf beskuldigdes in die Papapavlou-moordsaak het Maandag vir die eerste keer saam in die hof verskyn.

Patricia Ray-Lee Smith, Simoné Papapavlou, Paulinah Mafatle Tseka en haar seun, Calvin Tseka en Phillip Manchidi het in die Polokwane hooggeregshof verskyn.
Die saak is uitgestel na 27 September sodat die Tseka’s en Manchidi met hul regshulp advokaat kan konsulteer.

Raymond Papapavlou, Simoné se man, is op 4 Oktober 2020 op die plaas Rooikraal, tussen Groblersdal en Stoffberg, in sy bed doodgeskiet.
Smith is kort na Raymond se moord in hegtenis geneem en Simoné byna ’n jaar later.

Ná ’n lang hofstryd is Simoné op borg van R15 000 vrygelaat. Haar mede-beskuldigde, Smith, is uit op borg van R5 000.

Die twee het klaarblyklik ’n liefdesverhouding gehad terwyl Simoné met Raymond getroud was.

Die ma en seun, Paulinah Mafatle Tseka en Calvin Tseka, wat ook daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om Papapavlou te vermoor, het vroeg in Januarie borg van R2 500 elk gekry. Hulle is in Augustus verlede jaar in Gauteng in hegtenis geneem op klagtes van sameswering om moord te pleeg.

Paulinah Mafatle Tseka en haar seun, Calvin Tseka.

Phillip Manchidi is in April by die Winterveld paroolsentrum gearresteer, ook vir sameswering om moord te pleeg en is later op borg van R5 000 uitgelaat.
Manchidi was uit op parool na hy in die gevangenis was vir ’n ander moord en transitorooftogte.

Tseka (Paulinah) was Manchidi se vriendin.

Tseka se borgvoorwaardes het bepaal dat hy twee keer per week by die Silverton Polisiestasie aanmeld, omdat hy by sy werksplek gearresteer is en sy ma se woning te klein is vir hom om ook daar te bly.

Die ondersoekbeampte, adjudant offisier Debbie van Zyl, het tydens die Tseka’s se borgaansoek getuig dat hulle telefoonkommunikasie met Patricia en Simoné gehad het. Hulle het ook glo beide fondse van Smith ontvang, voor Raymond se moord.

Smith het ’n liefdesverhouding gehad met Simoné, Raymond se vrou. Daar is verlede jaar in die hof getuig tydens Simoné se borgaansoek, dat die verhouding die motief was vir Raymond se moord, aangesien hy in die pad gestaan het van hul verhouding.

Simoné en Raymond Papapavlou as paartjie voor die moord.

Adjudant Van Zyl het ook getuig dat Simoné en Patricia op 22 Februarie 2020 vir Shane Richard Dean Olivier in die Kgosi Mamupru II-tronk in Pretoria gaan besoek het.
Olivier is die biologiese pa van Simoné en dien lewenslange gevangenisstraf uit vir die moord op sy broer.

Adjudant Van Zyl het getuig dat Olivier in sy verklaring as staatsgetuie gesê het dat Patricia en Simoné gevra het of hy iemand ken wat Raymond kan vermoor. Olivier het na bewering vir Manchidi, wat ’n medegevangene was, aanbeveel.

Phillip Manchidi.

Sy het ook in haar getuienis gesê dat Olivier toe vir Manchidi genader het en reëlings getref is dat Simoné en Patricia met die Tseka’s in kontak kom vir betalings.
Bankstate het getoon dat Smith vir Mafatle deur “Money Market” betaal het en Tseka is betaal van Capitec-bankrekening na Capitec-bankrekening, is getuig.

Adjudant Van Zyl het ook getuienis gelewer dat Tseka (die seun) vanaf 29 September 2020 tot 4 Oktober 2020 in kontak was met die huishulp van Raymond op Rooikraal.
Sy het gesê dat hy glo kontak gemaak het met die huishulp op 4 Oktober 2020 22:25 en dat sy selfoon daarna afgeskakel is tot 6 Oktober 2020.

Alles dui daarop dat Raymond op 4 Oktober 2020 omstreeks 22:50 vermoor is.

Sy het getuig dat Simoné en Smith in telefoonkommunikasie was met die Tseka’s ná die besoek aan Olivier tot kort voor Raymond se moord.
Daar is talle rekords van telefoonkommunikasie tussen dié twee.

Adjudant Van Zyl het in haar getuienis destyds beweer dat die moord op Raymond maande lank beplan is.

Olivier is intussen na ’n ander gevangenis oorgeplaas, aangesien hy ’n wraakaanval vrees, het adjudant Van Zyl getuig.

• Regter Marisa Naudé-Odendaal hanteer die saak in die Polokwane hooggeregshof.

• Adv. Johan Gaum tree op vir Patricia en adv. Jacques Potgieter vir Simoné.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button