News

Net span stywer om Blouligbendes

Die net span stywer om bendes wat deur die jare as die “Blouligbende” ’n skrikbewind op die N12 voer.

Talle Middelburgers was in die laaste 10 jaar slagoffers van dié bendes wat hulle voorgedoen het as verkeersmanne of polisiebeamptes en dan gesinne gekaap en later in die veld afgelaai het.

Met samewerking van verskeie eenhede van die polisie soos die Valke en sekuriteitsfirmas is daar twee weke gelede twee verdagtes in Pretoria Wes gearresteer wat hulle as verkeersbeamptes voorgedoen het. Hulle word positief verbind met trokkapings in dié area.

Net etlike dae later is ’n joernalis van die gemeenskapskoerant, die Frankfort Herald (Vrystaat) Joalize Elis en haar kêrel, Johan Griesel, deur mans wat hulle voorgedoen het as polisiebeamptes op die N3 gekaap.

Die glimbaadjies wat waarskynlik gedra is tydens rooftogte.

Verlede week het ’n lid van die Middelburg Blitspatrollie ’n konstabel van die Tshwane Metropolisie en twee ander verdagtes gearresteer op die N4 naby Phola (Ogies) tussen die Petroport en Arbor-afrit.

Een van die verdagtes, wat nie verbonde was aan die metropolisie nie, het ook polisiedrag aangehad.
Hulle is vasgetrek nadat ’n Toyota Corolla opgemerk is waar dit langs die pad gestaan het.

Met die ondersoek is gevind dat die betrokke voertuig in Daveyton gekaap is.

Albei die mans wat vasgetrek is in Pretoria Wes het verkeers-uniforms gedra.

Tydens al die arrestasies is, buiten voertuie, ook beslag gelê op polisie- en verkeersdrag, asook vuurwapens. Daar is met die laaste arrestasie ook seinsteurtoestelle gevind.

Hierdie week het die Johannesburgse-polisie beslag gelê op voertuig wat presies verander is dat dit soos ’n polisievoertuig lyk.
Die voertuig word positief verbind met ten minste 35 voorvalle van die berugte “Blouligbende” rondom Johannesburg.

Polisiewoordvoerder Katlego Mogale het gesê dat polisielede van Mondeor inligting ontvang het dat die voertuig betrokke was by ’n rooftog in Alberton.
Met hul aankoms op die toneel het hulle die voertuig gesien en gedink dit is ’n Blitspatrollie polisievoertuig.

Een van die polisie holsters wat die verdagtes aangehad het.

Die lede het egter agterdogtig geraak toe die voertuig dadelik weggejaag het toe hulle daar stop.

Toe hulle die voertuig agterna sit, het vier verdagtes, wat geklee was in volledige polisie-uniforms, uitgespring. Daar is gesê dat hulle moontlik opgepik is deur hul makkers wat in ’n ander voertuig gery het.

Daar is vyf maande vantevore ook vyf verdagtes in Johannesburg vasgetrek, wat hulle voorgedoen het as polisiebeamptes.

• Die afgelope drie jaar was daar verskeie arrestasies van rowers wat hulle voorgedoen het as verkeers- en polisiebeamptes en is dit duidelik dat dit nie net een groep is wat sáám opereer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button