News

Mans wag paartjie in soos iets uit aksiefliek

Poging tot kaping was naby Middelburg.

’n Groep mans het dwars in die Loskopdampad gestop en met outomatiese aanvalsgewere in die pad gaan staan, in ’n poging om ’n jong paartjie te kaap.

Die ma van die jongmense wat byna gekaap is, het gevra dat almal se name op hierdie tydstip weerhou word, ter wille van hul veiligheid.

Die twee jongmense, onderskeidelik 24 en 25 jaar oud, was vanaf Middelburg in Groblersdal se rigting op pad, toe ’n minibus hulle van agter af verbysteek buite Middelburg.

Net verby die Keeromspruit, voor Botshabelo, het dieselfde minibus hulle egter ingewag.

Die minibus was dwars oor die pad gestop en twee mans, met outomatiese gewere, het in die pad gestaan.

Hulle het vir die paartjie gewys om te stop, maar die vrou het vir haar verloofde gesê om dadelik ’n U-draai te maak, waarop hulle terug gejaag het Middelburg toe.

Die mans met die outomatiese gewere het in die minibus gespring en in Doornkop se rigting gejaag.

Terwyl hulle omgedraai het Middelburg se kant toe, het die jongmense opgemerk dat een van die mans ’n polisie glimbaadjie aanhet.

Die ander een het donker kleure aangehad, soortgelyk aan dié wat sekuriteitsfirmas, wat geld oplaai, dra.

Die bestuurder van die minibus het ’n oranje hemp aangehad.

Op pad terug die dorp in, het die vrou haar ma laat weet, wat op haar beurt op noodgroepe almal in kennis gestel het.

• Noodgroepe is tans besig om die paaie te fynkam vir die minibus en sy insittendes.

Back to top button