Die No Guts-seminaar en die aand toe die papegaai nie wou praat nie
Die aand toe die papegaai nie wou praat nie! Nie eers nadat ’n joernalis mooi gevra, gesmeek, geskel en selfs ’n paar klappe uitgedeel het nie.
Die No Guts No Story No Glory-seminaar word Donderdag en Vrydag, (17 en 18 Augustus) by Olifants River Lodge aangebied.
Die eerste streekseminaar vir gemeenskapsjoernaliste is in 1993 by die terreinmuseum, Botshabelo, net buite Middelburg gehou.
Oor die jare is daar vele staaltjies wat oorvertel kan word, top sprekers wat opgetree het en die seminaar is gehou by ’n plekkie met die naam Hartelus, Morula Casino, Graceland en Carousel en die Paxton-gevangenis.
Wat joernaliste nooit sal vergeet nie is die aand by Carousel.
Die hotel het die vermaak gereël en besluit dat ’n hipnotiseur net die regte medisyne is om die oorwerkte, gestresde, joernaliste te vermaak.
Een van die joernaliste wat aangebied het om gehipnotiseur te word was Cornel Botha van Die Daller koerant op Groblersdal.
Dit het gesorg vir ’n uur se gelag dat die trane loop.
Die gehipnotiseerde joernaliste het gedans, roomys geëet en toe word Cornel as “wêreldkenner om papegaaie te leer praat” navore geroep.
Hy het die lap-papegaai eers met deernis hanteer, maar toe die papegaai nie wou praat nie, losgetrek met “praaatttt b@#! praat!”. Die papegaai het terstond ’n paar klappe teen die kop gekry.
Die eerste seminaar in 1993 was meer besadig met 40 afgevaardigdes en Lukas Groenewald van die Letaba Herald wat die seminaar bestuurder was. ’n Rol wat hy vir jare vervul het.
Die “Vriende van Botshabelo” het die gaste met warm brood verwelkom en die eerste spreker was Jan Jansen van Nederland, ’n verkiesingsmonitor.
Die tweede streekseminaar is by die Paxton-gevangenis op Witbank gehou en die joernaliste is op ’n toer deur die gevangenis geneem.
Daarna het Kruisrivier aan die beurt gekom waar ’n wildbesigtigingsrit geëindig het met ’n klomp joernaliste wat een van die voertuie ’n bult moes uitstoot, na hy onklaar geraak het.
Die fotograaf, Hennie Homann, het hom hier bewys as bokdrolspoeg kampioen.
Daar is drie keer by Carousel gekuier, Graceland by Secunda en die groot verblyfkompleks by Hartelus, naby Roossenekal, het ook gasheer gespeel.
Een van die sprekers by Hartelus was dr Micki Pistorius wat haar persoonlike verhaal gedeel het en die gevolge van post traumatiese stres.
Dit was ’n aangrypende aanbieding wat van die joernaliste in trane gehad het.
Selfs die Waarheid- en Voorsieningskommissie het aan die beurt gekom wat deur Hugh Lewin verteenwoordig is.
Loskopdam het drie keer gasheer gespeel.
Dit was in die tyd voor google en ’n vasvra kompetisie het joernaliste se (goeie) algemene kennis getoets. Hulle is met ’n boot na die oorkant van die dam geneem waar hulle in die bosse by ’n lapa onthaal is.
Op pad terug na die oord het Tickey Spence van die Hoëvelder skeef getrap en in die dam beland, terwyl sy met die terugtog op die boot probeer kom het.
Olifants River Lodge bied die seminaar vir die tweede keer aan.
Die program begin Donderdagaand en is as volg:
18:00 Saturn media en die Shepherd’s sofa (Janine Moller en Lonice Wessels).
18:10 Dr Henning Gericke.
19:00: Braai!
Vrydag
8:30: Dr Henning Gericke – “The Vulture and You”.
9:00 Hennie Homann gee terugvoer oor die 2023 Avbob FCJ toekennings.
9:45 Andre Brandmuller – “Yes, you can make a difference”.
10:30: Laatmiddagete
11:30: Andre Gouws – gee terugvoer oor die 2023 Avbob redaksionele inskrywings vir voortreflike joernalistiek.
12:15 Inge Kühne, redakteur van Rapport – For the love of (community) newspapers.
13:00: Seminaar eindig.
