HTS Middelburg se Rooi Bulle in relegasie skok
HTS Middelburg het van top rugbyskool getuimel tot ’n vernederende relegasie na die skildafdeling in die Noordvaal rugbyreeks vir skole.
Die Rooi Bulle het in die bekerafdeling meegeding teen skole soos Garsfontein, EG Jansen, Waterkloof en Monument, maar na ’n droewige seisoen afgeskuif na die plaatafdeling.
Na Saterdag se finale wedstryde in die ligafase het HTS Middelburg heel laaste geëindig in die reeks en is afgeskuif na nog ’n laer afdeling waar hy teen skole soos Ben Vorster van Tzaneen, Secunda, Heidelberg Volkskool en Jeugland sal meeding.
Klerksdorp was na sy oorwinning oor Montana met 27-26 die groot wenners. Transvalia het Tegnies met 40-11 afgeransel.
Ligbron skuif op na die plaatafdeling terwyl Menlopark, wat ’n nagmerrie seisoen beleef, afskuif van die bekerafdeling na die plaatafdeling en Rustenburg wat bo aan die punteleer geëindig het, speel volgende jaar in die bekerafdeling.
Hoërskool Middelburg het ’n skitterende seisoen en is in die tweede plek in die plaatafdeling, na Rustenburg.
Die skool se derde en o/14B spanne het die liga gewen.
Die eerstes speel weg in die een halfeindstryd teen Rustenburg nadat hy Zwartkop die naweek met 21-7 geklop het. Ongelukkig kon hy nie ’n broodnodige vierde drie druk nie, wat dalk ’n tuis halfeind kon verseker.
Die o/14A en o/16A spanne eindig bo in hulle afdelings en het tuis halfeindstryde.
Dat HTS Middelburg, wat op sy dag die Direkteurstrofee gewen het, op so lelike afwaartse glybaan is, is kommerwekkend. Die Rooi Bulle was landwyd bekend as rugbykrag, maar het die afgelope paar jaar met rasse skrede agteruit gegaan.
Die aanbied van die jaarlikse derby kan ook in die weegskaal wees, omdat Hoërskool Middelburg nou in ’n hoër afdeling speel en ’n ligabepaling nie meer as derbydag gebruik kan word nie.
Daar sal nou al koppe bymekaar gesit moet word om die groot dag te red.
Die val van die Rooi Bulle is eintlik ironies, want die skoen wat jare gelede aan Middies se voet was na een na die ander vernedering is nou in die rooi togs.
Hoërskool Middelburg se rugby was in die tyd van Chris Viljoen as skoolhoof op so slegte plek dat laerskool spelers gebruik moes word om die o/14 span vol te maak. Die derby kon nie eers plaasvind nie, omdat Middies rugby so swak was.
Nou is HTS Middelburg op die selfde plek, met sy ouderdomspanne wat ook die jaar uit die skoolbus geval het.
