Tafel is gedek vir Blitsbokke se besoek
Hoërskool Kanonkop werk tans dag en nag om alles in gereedheid te kry vir hul Erfenisfees saam met die Blitsbokke vanaf 20-23 September.
Die skool se sportorganiseerder, Dirkie Strydom, oud-sewes Shark- en Springbokspeler en bemarker, Christel Nel, is aan die stuur van die reëlingskomitee en moet kophou om alles seepglad te beplan.
Niemand kan bekostig om hierdie fees mis te loop nie!
Die Blitsbokke land op 19 September en ontmoet later dieselfde middag al die leerlinge van Hoërskool Kanonkop.
Op 20 September bied hulle ’n afrigtingskliniek vir laerskoolseuns aan.
Vir die aand se saamkuier sal almal moet spring as hulle nog ’n tafel wil bespreek om saam met die “Ou” en “Nuwe” Blitsbokke te kuier wat op die rusbank sal gesels en staaltjies vertel.
Manne wat baie te sê sal hê, is Dirkie self, Sandile Ngcobo, Marius Schoeman, Deon Oosthuizen en Toy Dannhauser.
Tafels kos R3 000 vir nege gaste, met die 10de gas een van die Blitsbokke.
Die selfde aand kan atlete deelneem aan die Hyena-nagwedloop met ’n 4.9km pretloop en ’n 10km wedloop vir ernstiger atlete.
Donderdag, 21 September, word ’n gholfdag aangebied waar die Blitsbokke ook betrokke sal wees en is daar nog putjies beskikbaar vir borgskappe en ’n paar oop plekke vir inskrywings.
Dit is ’n bedrywige Vrydag (22 September), want al die skool se sportspanne kom om 10:00 by die skool byeen vir ’n reuse optog saam met die Blitsbokke deur die dorp.
Hulle sal tussen 11:00-13:00 deur die dorp beweeg en by die laerskole verbyry.
Daar word gevra dat alle motoriste sal toeter druk as hulle die optog sien en dat dié wat langs die strate staan, ook sal brul soos Hoërskool Kanonkop se gelukbringer, die swart leeu, “Maximus”.
Saterdag, 23 September, speel die Blitsbokke om 12:50, 14:50 en 17:10 vertoonwedstryde teen die All Stars.
Die sewesfees vir o/15 en o/17 spelers is om 08:00 en sal daar tot 18:00 gespeel word.
Daar sal ook ‘Fast 5’-netbal die hele dag gespeel word.
Hekke open om 07:00 en toegang is R50 per persoon en R20 vir voertuie (kinders gratis).
Wedstryde sal op die SuperSport Schools Toep (App) uitgesaai word.
Persone wat nog veldlosies en stalletjies vir die boeremark wil bespreek, sal vinnig van hulle moet laat hoor, want spasie is beperk.
Veldlosies is R5 000 (7mx10m) en stalletjies vir die boeremark is R400 per stalletjie.
Daar is gereël vir ’n speelarea en volwassenes kan in die kuierarea en kontantkroeg saamkuier.
Die wêreldbeker wedstryd tussen Suid-Afrika en Ierland kan om 21:00 op die grootskerm gevolg word.
Vir enige navrae, stalletjiebesprekings of borgskappe, bel die skool by 013 245 2060 of Dirkie by 071 687 3909 of Christel by 072 476 5631.