News

Geliefde sjef Renier skielik oorlede

Renier Venter (44), die vriendelike sjef van die kuierplek, Na die Oes, is Maandag in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal oorlede.

Sy suster, Christel Tosen, sê hy het nog Saterdagoggend ontbyt gemaak by Na die Oes en was omstreeks 11:00 tuis. Hy het gesê “hy voel nie lekker nie”.

Sondag was hy so siek dat hy per ambulans na die Midmed Hospitaal geneem en dadelik in die intensiewe eenheid opgeneem is, waar hy Maandag gesterf het.
Hy was ’n diabeet en het weens nagevolge van die siekte gesterf.

Renier was geliefd onder almal en sy bynaam by familie en vriende was, “Guava”.
Hy het grootgeword in Middelburg en matrikuleer aan HTS Middelburg.

Almal onthou hoe trots hy op sy werk was en hoe hy daarvan gehou het om kos te maak en te onthaal. Dit was ook vir hom belangrik dat almal altyd genoeg moes eet.

“As ons naweke kom kuier het, kon hy nie gewag het om vir ons almal kos te maak nie.”

Sy sprankelende geaardheid het mense na hom toe aangetrek.

“Renier was ’n omgeemens en sou sy laaste geld uit sy beursie gehaal het om ’n ander persoon te help. Hy het altyd geglimlag en as jy ’n slegte dag gehad het, sou hy jou dag opgehelder het. Hy was die tipe persoon wat sodra jy hom leer ken het, het jy hom dadelik lief gekry.”

Renier word oorleef deur sy ouers, Chris en Drieka en suster Christel.

Die begrafnis is Saterdag om 10:00 uit die Ou Apostoliese Kerk in Suidstraat 1.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button