News

Mans met outomatiese gewere en balaklawas jaag motoriste skrik op die lyf

Mans met balaklawas en met outomatiese gewere, is besig om motoriste op hol te jaag.

Me. Corrie Bezuidenhout het op noodgroepe motoriste gewaarsku nadat ’n man met ’n balaklawa oor sy gesig op die hoek van John Magagula- en Hoogstraat uit ’n voertuig gespring het.

Die gebeure het Maandag omstreeks 16:00 plaasgevind.

Me. Bezuidenhout sê haar dogter en vriendin het voor haar gestop en sou links draai in Hoogstraat.
Die oomblik toe haar dogter stop, het sy in die regterbaan, langs haar, ’n roomkleurige voertuig gesien, wat agter ’n Landcruiser (SUV) gestop het.

’n Man, geklee in swart klere en ’n swart balaklawa oor sy gesig, het uit die voeruig gespring met ’n outomatiese wapen in sy hande.

“My dogter het ons dadelik oor die tweerigtingradio geroep.”

Die man met die wapen het gesien sy praat met die radio en het teruggespring in die voertuig. Me. Bezuidenhout se dogter kon sien dat daar nog mense, geklee in swart, in die voertuig was.

Me. Bezuidenhout sê hulle het opgemerk dat die Landcruiser weg getrek het in die rigting van die Midwater Sentrum en die roomkleurige voertuig het ook weg gery.
Hulle vermoed dat die mans die Landcruiser wou kaap.

Wat vir hulle die vreemdste is, is dat dit gebeur het “op die besigste tyd van die dag. Daar was ’n ry karre agter ons!”

• Vrydag het twee jongmense (wat verkies om anoniem te bly) gedink hulle gaan gekaap word toe ’n minibus dwars oor die pad gestop het voor hulle op die Loskopdampad, net buite Middelburg.

Daar het ook mense met outomatiese wapens uit die voertuig gespring en die jongmense het ’n U-draai gemaak en teruggejaag Middelburg se kant toe.
Hulle het onder andere gesê dat een van die mans ’n glimbaadjie, soos wat die polisie dra, aangehad het.

• Later die dag het die kinders se ma laat weet dat die minibus opgespoor is en dat dit verteenwoordigers was van ’n taxi-assosiasie-groep.

Sy het gesê die insittendes van die minibus het klaarblyklik gesê hulle wou nie die jongmense stop nie, maar wou vir hulle wys om aan die anderkant te stop, want hulle het gewag vir voertuie agter hulle.

Die ma sê hulle is aangeraai om ’n saak te maak by die polisie, maar hulle het daarteen besluit.

• Mnr. Kallie Erichsen het later per stemboodskap ook op noodgroepe gesê dat die voertuig wel opgespoor is en dat mense nie verder vir hulle hoef te soek nie.
Op die boodskap het hy gesê dat die polisie hom per video-oproep gekontak het en gesê het dat hulle by die minibus staan.

Sy boodskap het gemeld dat die taxi-assosiasie “besig is met ’n opruimingsaksie tussen Middelburg en Groblersdal van gesteelde artikels.”
Hy kon ook met die video-oproep sien dat die een van die mans wel ’n glimbaadjie aanhet, maar dat dit duidelik gemerk was met die taxi-assosiasie se naam.

Mnr. Erichsen het vanoggend gesê dat hulle na die noodroep van die ma Vrydag, dadelik op die plase se veiligheidkameras, wat in daardie area gekoördineer word deur die Banke Boere Unie, gekyk het en die voertuig opgemerk het.

Hy het die polisie se sektorbevelvoerder van die area gebel met die inligting, “wat oombliklik gereageer het!”

Kort daarna het die polisie hom gekontak, waartydens lede van die taxi assosiasie tydens die oproep aan hom verduidelik het dat hulle besig is om onwettige taxi’s deur te gaan vir byvoorbeeld gesteelde artikels.

Die polisie het die voertuig in die dorp opgespoor en die lede van die betrokke taxi-assosiasie is laat gaan nadat hulle verduidelik het waarmee hulle besig is.

• Daar is navraag gedoen by die polisie se provinsiale mediakantoor rakende operasies wat met wapens uitgevoer word.

Brig. Selvy Mohlala het gemeld dat die polisie nie toestemming sal gee vir operasies wat nie statutêr goedgekeur is nie.

Back to top button