News

Verdagte steel kind se fiets om agtervolgers te ontwyk

’n Vergeefse jaagtog het in Mineralia afgespeel nadat Mid Alarms reaksielede ’n verdagte agterna gesit het wat soos ’n haas oor mure gespring het.

’n Kogelstraat inwoner het vertel dat ’n man haar kind se fiets gesteel het, om waarskynlik sy agtervolgers te ontwyk.

“’n Mens is nêrens meer veilig nie! Ons is gyselaars in ons eie huis,” het Ona van Rooyen in haar ontsteltenis gesê.
Ona vertel dat die voorval vanoggend omtrent 10:30 plaasgevind het.

“Mid Alarms se reaksielede het die verdagte gejaag van OK Mineralia se kant, en hy het oor die muur van die huis agter ons in Jeppestraat gespring, en toe weer oor by ons erf in.”

Haar seun se fiets het in hulle motorhuis gestaant, met die deur oop. Haar twee kinders is siek en het by die huis saam met die huishulp gebly.
Sy vermoed dat die dief haar seun se fiets raakgesien het en dalk gedink het hy sal vinniger wegkom daarmee.

“Mid Alarms se reaksielede het die area gefynkam. Daar was vier van hulle reaksievoertuie wat die omgewing gepatrolleer het en hulle het die bosse deursoek. Ek is baie dankbaar vir hulle maar die verdagte het ongelukkig weggekom.”

Wat Ona die meeste ontstel is dat die fiets ’n kersgeskenk aan haar seun was.

“Dit gaan nie oor die geld nie, maar oor die sentiment. Daai fiets was duur en ons moes daarvoor spaar!”

Sy vertel dat hulle straat gereeld ly onder misdaad, en dat hulle gereeld sonder krag sit omdat kabels gesteel word.

“Dit maak my net hartseer! In die ou dae kon mens nog skool toe stap en parkie toe gaan, nou is ons nie eers meer veilig agter slot en grendel in ons eie erwe nie.”
Ona hoop dat veral pandwinkels sal uitkyk vir die gesteelde fiets.

Indien iemand enige inligting het oor die fiets kan hulle Ona skakel op 072 498 0426.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button