Video: Bende in minibus steel der duisende by besigheid
Vyf mans het Sondag vroegoggend doodluiters uit ’n minibus geklim, die Deltec Sentrum in Cowen Ntulistraat se deure oopgebreek en R350 000 se lithium batterye en omskakelaars uit die stoor gesteel.
“Hulle het glad nie belang gestel in die rekenaars of skootrekenaars nie, hulle het spesifiek stoor toe gegaan vir die batterye en omskakelaars. Hulle het ook die karbatterye gelos!” het ’n omgekrapte mnr. Henning Benadie gesê.
Met CCTV videomateriaal van ander besighede in die omgewing, het mnr. Benadie gesien dat dit ’n groep van vyf was wat op sy besigheid toegesak het.
“Hulle het eers ’n ruk voor Deltec gesit, waarna hulle die veiligheidsdeur en die ander deur met ’n koevoet oopforseer het.”
Vandaar is hulle na die stoor, waar hulle ook dié deur oopgebreek het.

Die sekuriteitsfirma het na die perseel gejaag, omdat die alarm afgegaan het en het die minibus gevolg tot by die Irak-taxistaanplek, waar die minibus tussen die ander taxi’s verdwyn het.

Wat hulle uit die videomateriaal kon wys word:
• Dat dit ’n wit minibus is, sonder enige sigbare merke of plakkers daarop.
• Die nommerplaat het ’n glimplakker.
• Die minibus het kenmerkende sierwiele (mags).
• Die sitplekke is uitgehaal, wat dit maklik gemaak het om die gesteelde artikels daarin te laai.
• Die buite-spieëls se agterkante is ook wit, anders as die gewone swart.
• Een van die inbrekers loop kruppel.
• ’n Ander een het swart tekkies (sneakers) met ’n wit streep deur, aan.
• Daar is ook een wat ’n nuwe blou glimbaadjie aangehad het.
• Twee voetgangers, asook ’n voertuig het op ’n stadium by die inbrekers verby gegaan. Hulle het egter nie gestop en gevra wat hulle soek nie.

Mnr. Benadie het van die videomateriaal goedgunstiglik beskikbaar gestel vir publikasie.
Omdat die video ’n bietjie lank is, word dit op vinnige aksie gewys sodat ’n mens alles, waaronder ook die minibus, kan sien.
Enige persoon wat moontlik inligting het oor wie die inbrekers kan wees, of as hulle die artikels wat gesteel is, probeer verkwansel, kan mnr. Benadie bel by 072 338 1130.


