Rowers oorval man in sakekern
’n Plaaslike man het ’n noue ontkoming met twee rowers in OR Tambostraat gehad, maar ernstige beserings vrygespring nadat ’n goeie Samaritaan tot sy redding gekom het.
Me Jeanette de Bruyn vertel dat haar man Paul net na 16:00 Dinsdagmiddag deur twee rowers oorval is nadat hy geld by Nedbank in OR Tambostraat gaan trek het.
Die straat is berug vir grypdiewe en diefstalle uit voertuie.
Toe die twee rowers Paul telyf gaan, het hy dadelik plat geval om die verhoed dat hulle sy kontant steel.
Die rowers het aan hom begin skop en slaan.
Jeanette vertel dat ’n ander man die twee rowers dopgehou het, en het opgemerk dat hulle vir Paul agtervolg.
Die Samaritaan het dadelik ingetree en kon die rowers die skrik op die lyf jaag met dreigemente dat hy gewapen is.
Behalwe gekneusde ribbes en ’n hou aan die kop, het Paul gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.
“Die een rower het op hom gesit terwyl hy geskop en slaan is, en ek het hom van Paul probeer aftrek,” vertel Jeanette.
Jeanette en Paul kan nie die naam van die man onthou nie, maar wil hom graag bedank vir sy manhaftige optrede.
“Hy het beslis my man meer ernstige beserings gespaar, nie te praat van die kontant wat die boewe nie kon kry nie.”
