Baksteen-held beloon met? Bakstene!
Die man wat verlede week ’n boef amper katswink gegooi het met bakstene, gaan beloon word met...bakstene!
Federale Stene was vroeg hierdie week al opsoek na Thabo Ngwatle wat sy eienaars se erf in Koperstraat (Mineralia) beskerm het.
Thabo gaan met bakstene beloon word vir sy vernuftige tref-aksie toe hy die betreder betrap het.
Daar is nie verniet gesê: “Gee daai man ’n baksteen” nie en die span van Federale Stene het dit raakgesien.
Hulle is nog besig om reëlings te tref om aan hom die skenking te maak.
• Op CCTV videomateriaal kan gesien word hoe die boef oor ’n muur klouter en hom in Thabo vasloop.
Thabo het dadelik gereageer, bakstene opgetel en dit na die betreder geslinger.
Net voor hy oor die muur verdwyn, het een van die bakstene hom teen die bout getref.
• Dieselfde man is ’n dag later deur personeel van Laerskool Staatspresident C.R. Swart gevang nadat hy probeer het om ’n motorhuis oop te forseer. Lees die berig in hierdie week se gedrukte uitgawe van die Middelburg Observer.
