Rugby wêreldbeker wenner teken kontrak met Kaizer Chiefs
Van die wêreld se mees belowende middelafstand atleet tot Springbok wêreldbeker rugby wenner in 2007 en nou die sokkerspan, Kaizer Chiefs, se kopdokter.
Henning Gericke het sekerlik nooit gedink sy sportloopbaan sou hom na soveel afdraaipaaie lei, nadat sy drome om aan die Olimpiese Spele deel te neem, in 1984 aan skerwe gespat het, weens die apartheidsbestel.
Hy het so pas ’n kontrak met die Suid-Afrikaanse sokker reuse geteken om hulle die seisoen by te staan.
Dr Gericke was reeds by een liga wedstryd betrokke toe hulle Amazulu in die PSL gepak het.
“Ek het ’n honderd persent rekord,” het hy vanoggend gespot, toe hy oor sy betrokkenheid by Chiefs gepols is.
Na ’n inspirerende praatjie, waar hy vir die spelers gesê het hulle loop in die voetspore van Kaizer Chiefs-helde soos Doctor Khumalo en dat hulle vir die trui moet speel, het hulle Amazulu met 3-0 afgeransel.
Die groot toets kom egter vanaand en Saterdag wanneer Stellenbosch in die PSL liga gepak word weg van die huis af en die sterk span van Sundowns Saterdag in die MTN semi-finaal in die FNB-stadion.
Chiefs is tans elfde van die 16 spanne in die liga met Stellenbosch agtste en die voorlopers is die huidige PSL kampioene, Mamelodi Sundowns.
Dr Gericke sê sy betrokkenheid by sokker is ’n vars bries en groot uitdaging.
Hy is ook die skrywer van verskeie boeke waaronder “Inspiring parents in sport and life”, “Inspiring champions – reflect and act”, “Creating your champion team”, “Inspiring champions” en “The champions way”.
Hy was ook voorheen betrokke by die Westelike Provinsie-rugbyspan, Bafana Bafana tydens die 2010 sokker wêreldbeker, Protea-krieketspan toe Corrie van Zyl die afrigter was, Haaie as Curriebekerwenners in 2008, Suid-Afrikaanse swemspan na die Olimpieses Spele in 2012 en Protea-netbalspan in 2018.
Hy en die Blou Bulle se direkteur van rugby, Jake White, stap al ’n lang pad en hy was ook die laaste paar jaar by die Bulle se sielkundige voorbereiding betrokke.
Dr Gericke het vir jare op Middelburg gewoon.