Kabeldiewe sak toe op afgebrande Kakiebos
Terwyl die enigste drie personeellede van Kakiebos Kafee al vir drie weke spook om ’n nuwe restaurant langs die gebrande gebou te bou, het kabeldiewe begin om hulle te teiken.
Cyrus Bosch (sjef) was moedeloos toe hy vanoggend wys watter skade aangerig is.
“Ons buurman moes vir ons kabels aanlê vir krag, want hulle het oral kabels gesny!”

Die booswigte het die elektriese heining gelig, deurgeklouter en bykans al die koperkabels gesny. Die pype na die geiser toe is ook gesny.
• Dit is die derde keer dat die boewe teruggekom het om kabels te vandaliseer of te steel.
“Daar het byna niks oorgebly na die brand nie en nou vat hulle die bietjie wat ons nog het ook!” het Yolandie Koorsen omgekrap gesê.
• Kakiebos Kafee, wat in Wattstraat in die Industriële gebied geleë is, het op 11 Julie afgebrand.

Dit blyk dat ’n ’n kortsluiting van die twee klein wyn-yskassies op die boonste vloer, die oorsaak kon wees. Die vermoede bestaan dat die baie beurtkrag en ’n kortsluiting die brand veroorsaak het.
