News

Fietsryers trap in vrou se skelmstrik

’n Vrou wat haarself ingewurm het op die Middelburg Fietsrygroep, het gemaak asof sy artikels verkoop en van die groeplede uit meer as R2 000 elk verkul.

“Sy het reeds twee fietsryers ingeloop, maar ons moet ander mense op WhatsApp-groepe waarsku, want ’n mens weet nie hoeveel mense sy al so gevang het nie,” het ’n omgekrapte Hannes du Randt gesê.

Hy en Veli Mthethwa was slagoffers deur geld oor te betaal vir artikels wat sy geadverteer het, maar waar sy verkeerde adresse verskaf het.
Die vrou, wat haarself Minette noem, is op die groep bygevoeg en daar is gemeen sy is familie van een van die fietsryers.

Veli was verlede naweek baie opgewonde toe hy sien sy adverteer ’n fietsraam vir R2 500, want hulle is baie duurder in winkels.

Hy het “Minette” gekontak en sy het gesê hy moet vir haar die geld met ‘E-Wallet’ oorbetaal, dan sal sy vir hom die presiese pin-koördinate (Pin-Drop) stuur per WhatsApp.
Veli het dadelik die geld oorbetaal.

Die pin-koördinate van die adres in Bhimy Damanestraat en boodskap waarin sy gesê het ander mense stel ook in die sleepwa belang.

Nadat hy ’n paar keer vir haar boodskappe gestuur en sy nie geantwoord het nie, het sy een dag weer skielik geantwoord en gesê haar foon is gesteel.
Die pin-koördinate wat sy gestuur het, was in Eastdene.

• Sy het ook ’n sleepwa op die groep geadverteer en Hannes het haar opgewonde gekontak, want sy broer het dringend ’n sleepwa gesoek.
Hy het per Whatsapp gekommunikeer en hulle het ’n paar keer ook oor die selfoon met mekaar gepraat. “Dit is beslis ’n Afrikaanse vrou,” sê hy.

Op ’n stadium het sy vir hom ’n boodskap gestuur en gevra of hy nog belangstel, want daar is ’n paar mense wat die sleepwa dadelik wil hê.
Daar is ooreen gekom dat hy die R2 000 deposito oorbetaal, dan sal sy vir hom ook die pin-koördinate stuur.

Sy wou ook hê dat hy dit per ‘E-Wallet’ moes doen, maar Hannes het gesê hy sal ’n kaartlose transaksie doen en sy het ingestem.

Hy het die deposito betaal en sy het vir hom die pin-koördinate gestuur.
Die adres waar hy die sleepwa moes gaan afhaal, was in Bhimy Damanestraat.

Hannes sê dat hulle na beide adresse in Eastdene en Bhimy Damanestraat gegaan het en dat die huisbewoners nie ’n idee gehad het waarvan hulle praat nie.
“Minette” het ook nog nie weer op hom of Veli se boodskappe gereageer nie.

Minette Erasmus” se WhatsApp profielfoto.

Hannes het aangedui dat hy ’n saak by die polisie gaan open.

“R2 000 is nie baie geld nie, maar as sy 10 of 20 mense inloop, word dit baie!”

• Hannes sê hulle het intussen verneem dat die vrou se naam en van Minette Erasmus is.
Dit het egter onder die joernalis se aandag gekom dat ’n Sylvia Mooi die laaste eienaar van “Minette” se foon was.

• Die joernalis het die nommer ’n paar keer gebel, maar die foon was af.

• Vanoggend is ’n WhatsApp-boodskap vir haar gestuur om haar kommentaar te vra oor die bewerings. Sy het die boodskap gelees, maar daarna haar selfoon afgesit.
Die nommer wat sy gebruik het, is 084 644 3363.

• Nadat daar verneem is van “Minette” se skelmstreke op die fietsrygroep, is sy van die groep af verwyder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button