News

Lugtydboef misgis hom met slagoffer wie se seun oorlede is

’n Oortuigende lugtydboef het hom per WhatsApp voorgedoen as ’n vrou se seun. Was dit nie vir die fout wat hy oor haar oorlede seun gemaak het nie, sou sy vir hom R550 oorbetaal het.

“Die oomblik toe hy sê hy wil vir Nico ook bel, het ek finaal besef dit is nie Gerhard nie! Gerhard se broer, Nico, is vier jaar gelede oorlede!”

Sylvia Vermaak vertel hoe sy verlede week gedink het haar seun, Gerhard, stuur vir haar boodskappe.
Haar foon het gelui en af gegaan en sy het gesien die persoon wat haar bel, het ’n foto van ’n liggaamsbouer op sy profiel.

Sekondes later het sy van ’n vreemde nommer af ’n WhatsApp-boodskap gekry wat gesê het dit is Gerhard (haar seun) en dat hy haar hulp nodig het. Ook dat dit sy nuwe nommer is.
Sy het opgemerk dat daar ’n foto van Gerhard op die WhatsApp-profiel verskyn.

Omdat hy vir hulp gevra het, was sy as ma dadelik bekommerd en het die nommer gebel, maar die persoon het doodgedruk en dadelik per WhatsApp gesê die sein is sleg

Hy het haar ingelig dat sy die ou nommer wat sy van hom het, moet uitvee en dat hy ’n goedkoop aanbod gekry het van ’n ander diensverskaffer.
In die daaropvolgende boodskapppe het hy gevra vir lugtyd.

“Ek het al ’n bietjie begin wonder omdat hy gevra het vir ‘lugtyd’ en nie ‘airtime’ nie, maar het steeds gedink dit is Gerhard.”
In die boodskappe het hy verduidelik dat sy BankToep (App) van lyn af is en dat hy die nuwe nommer nog moet registreer.

Sylvia het gevra of sy die geld op dié nommer moet stuur, maar hy het ’n ander nommer gestuur van sy ‘vriend’ vir wie sy dit moes stuur en dan sou die vriend kwansuis vir hom data opsit.

Verder het hy beloof dat hy vir haar R600 oorbetaal vir haar moeite, so gou as wat hy kans het.
Hy het selfs op die boodskappe verduidelik hoeveel goedkoper die nuwe aanbod is.

Soos enige ma het sy gereageer met: “Dankie love you” en was die reaksie: “Love you too!”

Sylvia wou net die geld oorbetaal toe sy dié boodskap kry: “Ek wil vir Nico ook bel.”
Sy was woedend, want sy het besef dit is ’n kansvatter, omdat Nico oorlede is.

Voordat sy hom egter kon terug-antwoord, het hy ook gesê: “Erika stuur liefde en groete.”
Dit het haar baie senuweeagtig gemaak, “want Erika is Gerhard se meisie!”

Sylvia was só kwaad dat sy dadelik vir hom ’n boodskap gestuur het waarin sy hom in sy peetjie gestuur het. Hy het haar kort daarna geblok.
Sy het ook vir Gerhard gebel en hom van die gebeure vertel. “En amper het ek sy nommer afgevee van my selfoon af!”

• Sylvia voermoed die persoon het hul persoonlike inligting vanaf Facebook gekry, maar dit is vir haar vreemd dat hy nie kon agterkom dat daar hartseer boodskappe oor Nico was nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button