News

Bejaarde skiet hom eers in bors en daarna in kop

Net etlike dae voordat Pieter Uys (74) homself gistermiddag in die parkeerarea by die Middelburg Mall geskiet het, het hy sy nuwe testament vir sy eksvrou gevat.

Mnr. Uys het homself gistermiddag eers in die bors en daarna in die kop geskiet met ’n .22 pistool.

Die gebeure het plaasgevind in sy Mazda bakkie by die oorloop parkering by die Mall (langs McDonald’s).
Hy het in die passasierskant voor in die bakkie gesit en het ’n briefie agtergelaat.

Op die briefie, wat geskryf is in hoofletters op ’n bladsy uit ’n dagboek van 2005, het hy sy eksvrou en seun (wat verkies om anoniem te bly) se nommers neergeskryf.

In Engels het hy daarby geskryf: “My name is Pieter Uys, people to contact…” met hul nommers daarby.
Na die nommers het hy bygevoeg: “I have serious health issues.”

Verbygangers het vroeër die middag gesien dat ’n man kop-onderstebo in die parkering sit en het opgemerk daar is bloedspatsels op sy klere.
Toe hulle later verbystap en sien hy sit nog in dieselfde posisie, het hulle dadelik die Mall se sekuriteit gekontak.

Mnr. Koos Venter (sekuriteitsbestuurder, Middelburg Mall) sê hulle het hulle na die bakkie gehaas waar hulle mnr. Uys gevind en die polisie gekontak is.

Hulle het gister na die gebeure die CCTV videomateriaal in die area nagegaan en gesien dat mnr. Uys omstreeks 13:00 in die parkeerarea gestop het en ’n rukkie later uitgeklim en ingeklim het by die voorste passasierskant.

Omstreeks 15:20 het mense hulle laat weet daar is fout.

Mnr. Uys se eksvrou, Ondean Uys, sê sy was geskok toe sy gisteraand om 16:45 ’n oproep van ’n polisieman gekry het.

“’n Man het my gebel en ek het baie mense in die agtergrond hoor praat. Hy het my gevra of my oupa se naam Pieter Uys is en ek het gesê ek is sy eksvrou. Hy het gesê Pieter is dood en ek moet Mall toe kom.”

Me. Uys bly in eMalahleni en het ’n familielid gevra om haar na Middelburg te neem.

“Ek het nog gisteroggend met hom gepraat en hy was besig om te werk in sy huis. Ons het met mekaar geskerts en ek het vir hom gesê hy moet eerder ontspan.”
Sy en mnr. Uys was vir meer as 20 jaar getroud en is sewe jaar gelede geskei.

Hulle het egter steeds goeie vriende gebly en hy het gereeld by haar kom kuier, soms tot drie keer per week.

Nadat haar verloofde in Februarie hierdie jaar dood is in ’n motorfietsongeluk, het mnr. Uys haar geweldig ondersteun in hierdie moeilike tyd.
Sy vertel dat sy en Pieter getroud is nadat sy vrou jonk dood is.

Sy het ook saam met hom getreur toe sy seun, Adrian, op 27-jarige ouderdom in ’n tref-en-trap ongeluk gesterf het.

“My dogter, Tiffaneé, was nege jaar oud toe ons getroud is en Pieter het haar soos sy eie grootgemaak. Hy het haar ook die kerk ingevat toe sy getroud is.”
Die afgelope paar weke het sy tydens hul kuiersessies agtergekom hy word baie maer.

“Hy het egter niks gesê oor sy gesondheid nie, maar wou elke keer as hy daar kom, dat ek sy bakkie bestuur. Ek het gekla die bakkie is te groot, maar hy het aangedring daarop dat ek dit moes bestuur. Sy bakkie was sy alles.”

Verlede Vrydag het hy tydens sy besoek aan haar in eMalahleni, haar gevat vir roomys.
Terwyl hulle gesels het, het hy vir haar ’n geheuestokkie gegee.

“Pieter het vir my gesê dit is sy finale testament en dat ek dit moet bewaar en na ’n prokureur toe vat.”
Sy wou dit aanvanklik nie vat nie en het nog vir hom gesê sy kan dalk voor hom doodgaan, maar hy het aangedring daarop dat sy die geheuestokkie vat.

“Ek weet nie of hy dalk iets beplan het nie, want hoekom was dit so belangrik dat ek dit moes hou, en dat ek die bakkie moes bestuur. Hy wou seker maak ek kan die bakkie, wat hy aan my bemaak het, kon ry. Hy het geweet ek het nie vervoer nie.”

As sy Pieter, “die vriendelike man met die kepsie,” moet beskryf, dan onthou sy hom as ’n gelowige man, wat baie presies was in alles wat hy gedoen het.

Sy onthou ook hoe presies hy destyds, toe hy nog by Eskom gewerk het as kwaliteitskontroleerder, sy werk gedoen het.
“Hy was die eerlikste, hardwerkendste en liefdevolste mens wat ek geken het.”

Mnr. Uys word vir buiten sy seun, eksvrou en haar kinders, ook oorleef deur sy broers, Richard (wat in Washington DC bly) en Tony (bly in Johannesburg) en ’n suster, Elizabeth (van Australië).

• Daar is nog nie begin met begrafnisreëlings nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button