Beleggers loop in boerbokke, beeste en lang gras vas
Boerbokke en beeste wat aan lang gras op sypaadjies en parkies knibbel, gras wat in strate groei, mans wat voor kinders urineer en dwelms wat oop en bloot verkoop word.
Nou praat ons net van die hoofstraat van die woongebied by Komati Kragstasie.
Me. Alta de Bruin moet elke keer haar kop in skaamte laat sak wanneer oorsese beleggers van die beplande solarprojek by Komati Kragstasie by haar netjiese gastehuis oorslaap. Dit is vir haar ’n verleentheid dat hulle moes sien hoe die dorp ten gronde gaan.
“Die boerbokke en beeste loop in die strate rond en daar word sommer by huise diere geslag. Wasgoed hang oor heinings in die hoofstraat en dan praat ek nie eers van die lang gras nie!”
Sy het hierdie week op Facebook grappenderwys ’n foto geplaas van haar man en sy vriend wat doenig was om boerboeke te bevry wat in ’n tou waarmee hulle vasgemaak was, verstrengel geraak het. Hulle het die bokke, wat die hele dag ook nie water gekry het nie, losgesny.
Saam met die foto het sy egter gesê hulle gaan bokke kry om die gras te probeer kort hou, want die munisipaliteit sny die gras net twee keer per jaar.
“Dalk moet die inwoners daaraan dink om net twee keer per jaar erfbelasting te betaal!”
Alhoewel dit baie snaaks voorkom, is dit egter ’n baie ernstige saak vir haar.
“Die Steve Tshwete Munisipaliteit se kontrakteur kom regtig net twee keer per jaar die gras sny en ook net as ek ’n hengse kabaal opgeskop het!”
Sy vertel hoe die gras dan in die pad groei en geweldige skade veroorsaak.
“Die arme kinders in ons dorp kan nie in die parkies speel nie, want die gras word bosse en daar lê oral bottelstukke rond!”
Kry hulle dit wel reg om deur die lang grasse te ploeg, moet hulle sien hoe dronk mans naby die drankwinkel in die openbaar urineer, voordat hulle by die kruidenierswinkel kan uitkom.
Syself was al ooggetuie hoe daar dwelms verkoop word aan jong tieners.
Boonop hang daar al vir maande ’n oop kragkabel by ’n paal en geen straatligte word herstel nie.
“Hoekom kan die munisipaliteit nie ’n plaaslike kontrakteur, wat hier by ons in die omgewing bly, aanstel om ons dorp in stand te hou nie? Die staatspresident het verlede jaar met ’n helikopter by Komati Kragstasie geland toe die projek van stapel gestuur is.
“Toe hulle hoor die president kom, toe is die gras skielik gesny. Maar wat van die res van die jaar? Wat moet die beleggers en mense wat hier gaan opleiding kry vir die nuwe projek van ons dorp en die munisipaliteit dink? Daar word net niks gedoen nie!”
