“Ma moes sterf sodat ek kon leef” – maar toe verdwyn Divan
Net ’n paar maande nadat Divan Ferreira in die rehabilitasiekliniek gesê het “dat dit voel vir my dat my ma moes sterf sodat ek weer kan leef,” het hy saam met ’n ander verslaafde uit die kliniek weggeloop.
Me. Dorijn Verwey (stigter en direkteur, Bread of Life-rehabilitasiekliniek) het bevestig dat Divan, wat ’n bekende heroïnverslaafde was in Middelburg, ’n rukkie gelede saam met ’n vrou, wat ook by die rehabilitasiekliniek was, weg is.
“Ek glo egter in Divan se redding. Dit het so goed gegaan met hom hier.”
Middelburgers sal onthou hoe Divan in November 2022 na Bread of Life is vir rehabilitasie.
Sy ma, Lanie Barnard, was sy grootste ondersteuner en was baie opgewonde dat hy uiteindelik die dwelmdraak sou los.
Me. Barnard het egter vroeg in Desember siek geword en die personeel het vir Divan gevat om sy ma te besoek. ’n Paar dae later, op 18 Desember 2022, is sy oorlede.
Die personeel van Bread of Life het hom ook begrafnis toe geneem.
“Hy het haar dood baie goed verwerk en gesê hy voel dat sy moes sterf dat hy weer kan leef.”
Dit was vir hulle ’n baie groot skok toe Divan vroeër hierdie jaar saam met die vrou weggeloop het.
“Verslaafdes in rehabilitasie wat verhoudings aankoop, loop altyd uit op chaos. Dit het in die meeste gevalle, ek kan amper sê in 99.99 persent van die gevalle, nie ’n goeie uitkoms nie.”
Sy sê hy het baie goed gedoen by Bread of Life.
“Ons het baie pontensiaal in hom gesien en hy het leiding geneem in die groepe. Sy studies is selfs geborg om verder te studeer in verslawingsberading.”
Sy meld dat die betrokke vrou ’n jaar voor sy met Divan weggeloop het, ook in ’n verhouding was met ’n ander verslaafde by die kliniek en toe ook met hom weggeloop het.
Die vrou het later teruggekom en het daar ’n verhouding tussen haar en Divan begin.
Me. Verwey onthou hoe die vrou vir haar gejok het en gesê het sy wil net by familie gaan kuier.
Syself het nog die vrou na haar familie toe geneem, maar die vrou was kort daarna terug met ’n voertuig en het Divan weggevat.
“Divan het ’n fout gemaak en ek sal hom met ope arms terugverwelkom as hy wil terugkom. Hy het diep in ons almal se harte gekruip. Dit was asof ons ’n kind verloor toe hy saam met die vrou hier weg is.”
• Me. Verwey noem dat hulle gerugte gehoor het dat beide Divan en die vrou weer begin dwelms gebruik het, maar dat sy dit nie kan bevestig nie.
Hulle is nie seker waar die twee tans is nie en het verneem dat hulle by Orania is, maar ook dit is nie bevestig nie.
• Bread of Life is geleë naby die Mac-Mac watervalle, tussen Sabie en Graskop.
