Toegeslaande oë en gebreekte neus – Angie se hel op straat
Met toegeslaande oë of ’n gebreekte neus, het Angie Swanepoel altyd teruggegaan na haar ‘veilige hawe’ - Nico Roets se huis.
Angie is verlede week by Nico se huis oorlede nadat sy ’n week vantevore in warm badwater geval het (die volledige berig daaroor kan gelees word in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer).
Nico onthou hoe hy ’n jaar gelede vir Angie leer ken het toe sy saam met mense by sy huis opgedaag het vir ’n pakkie kos.
“Ek gee soms kos vir mense wat swaarkry en die dag toe sy daar aangekom het, het ek vir haar ook koffie gegee. ’n Mens moet darem mense leer ken wat jy help.”
Met verloop van tyd het die hawelose Angie, wat aan alkohol verslaaf was, gereeld gekom vir iets te ete.
“Sy was soms gehawend en afgemat, dan het ons nie net kos en koffie gegee nie. Ons het haar laat bad en nuwe klere gegee, en haar selfs gereeld laat oorslaap.”
Lezelda Wolff en haar man bly ook by Nico en het vertel hoe sy gereeld van haar eie klere vir Angie gegee het.
Sy het meer as een keer erg beseer by hulle aangekom.
“Haar oë was al toegeslaan, haar neus en ook haar kakebeen gebreek.” Dan het hulle haar verblyf gegee en gesond gedokter.
As dit erg gereën het en ook in die koue wintermaande, het Angie haar slaapplek onder ’n brug of in die begraafplaas agtergelaat, aangeklop by Nico en ’n warm bed gekry.
“My huis was haar veilige hawe.”
Nico sê hy het urelange gesprekke met Angie gehad waarin hy haar probeer motiveer het om die straatlewe te los.
Soms het hy haar selfs Wimpy toe gevat vir ’n hamburger en koeldrank om haar op te hef, maar die straat het elke keer weer geroep.
“In die tye wat sy orraait was, het sy gesels oor haar familie, haar kinders….”
Nico het ook vir ’n ruk vir haar betaal dat sy in een van die vertrekke langs Broers Gimnasium kon bly, maar almal wat daar was moes onlangs trek, omdat die eiendom verkoop is. Sy het ook vir hom vertel dat sy lank by Athlonedam gebly het om uit die hande van die rowers te probeer bly.
As sy ’n selfoon geleen kon kry om Nico te bel, het sy vir ’n paar rand gevra en het hy dit maar gegee, met die hoop dat sy net iets sal eet. Dit het ook betaal vir die kere wat sy siek was en doktersbehandeling en medikasie moes kry.
“Ek het haar selfs gehelp dat sy weer ’n identiteitskaart gekry het. Gelukkig het ons dit afgeneem, want twee weke later is sy weer besteel.”
Die aand voor haar dood het hulle ’n gesprek gehad waartydens sy gehuil het.
“Sy het vir my gesê sy is jammer oor alles wat sy gedoen het en het verskonig gemaak oor baie dinge wat in haar lewe gebeur het. Ek het vir haar gesê sulke dinge gebeur in die lewe en sy moet nie haar kop daaroor breek nie. Die volgende dag is sy oorlede.”
Na haar afsterwe het Nico Angie se familie opgespoor en het hulle haar begrafnisreëlings getref.
In ’n laaste eerbetoon aan Angie het Nico gevra of hy vir die blomme kan betaal.
“Wat ek vir Angie kon gee, het ek gegee….as sy sober was, was sy baie ordentlik en ’n simpatieke mens. Ek het gedoen wat ek kon.”