Bruggie kry nuwe baadjie na mildelike reën oppervlak beskadig
Die laagwaterbruggie tussen Kanonkop en die middedorp by Kees Taljaard Stadion word uiteindelik herstel na erge vloedskade vroeër vanjaar.
Die bruggie is al dekadeslank ’n trekpleister vir die dorp se inwoners sodra dit oorloop.
Hy het vanjaar verskeie maal onder die water verdwyn, weens die sluise van Middelburgdam wat vanjaar soms verskeie maal per week gelig moes word om water uit die dam te laat.
Op die Middelburg Observer webwerf self, het die koerant inwoners gereeld ingelig wanneer die sluise oopgemaak sou word, en waarskuwings uitgereik aan waaghalsiges om van die rivieroewer én bruggie af weg te bly.
Duisende inwoners aanskou egter elke jaar die bruggie in vloed van ’n veilige afstand af.
Die rivier is so deel van Middelburg inwoners se menswees soos die Witkerk.
Oor jare heen was daar verskeie brug-voorvalle, waarvan sommige amper dodelik was, soos tienerseuns wat onder die bruggie uit gered moes word nadat hulle op binnebande die bruisende rivier af is, maar in die brugpype vasgevang is.
Vanjaar is selfs ’n lyk gewaar waar dit oor die bruggie gespoel het toe die sluise oopgemaak is.
Brandweerduikers het hard teen die stroom baklei om by die liggaam uit te kom.
’n Hoogtepunt jare gelede was ook die jaarlikse besoeke van die destydse Pretoria Technikon (nou TUT) joernalistiek studente, wat fop ongelukke tydens besoeke aan die Middelburg Observer op die bruggie moes byewoon en daarna self berigte daaroor skryf, wat ook gepubliseer is.
Weens miljoene liters water wat weens mildelike reën oor die brug gespoel het, is die brug se padoppervlak plek-plek volkome weggespoel.
Die boonste laag teer wat weggespoel het, het reuse slote op die brug veroorsaak, waardeur selfs viertrekvoertuie ongemaklik moes deur.
Kleiner voertuie moes feitlik heeltemal tot stilstand kom voordat die slote op laespoed in eersterat aangepak is.
Inwoners van die area sal argumenteer dat dit dalk nie ’n slegte ding was nie weens die verwarring oor stoptekens wat honderde motoriste skynbaar steeds nie opgeval het nie.
Stoptekens is maande gelede reeds geskuif, en motoriste wat eens dood op die brug moes stop om Asaliastraat voertuie ryvoorrang te gee, hoef nou nie meer te stop nie.
Motoriste in Asaliastraat moet nou bruggebruikers voorrang gee.
