Jong man vermis, dalk in Middelburg gesien
Die ma van ’n 29 jarige man wat twee jaar gelede uit Richardsbaai verdwyn het, vermoed dat haar seun in Middelburg is en vra die gemeenskap se hulp.
Thea Olckers het aan Middelburg Observer bevestig dat haar seun, Maarten Coetzee Olckers, wat Coetzee genoem word, op 21 Februarie 2021 as vermis aangemeld is.
Thea het onlangs ’n foto vanuit Middelburg ontvang, van ’n man wat baie na Coetzee lyk.
Thea het gesê al is sy nie oortuig dat Coetzee die man in die foto is nie, deel hy verskeie gelaatstrekke.
“Die man in die foto het ’n baard en Coetzee het nog nooit van ’n baard gehou nie. Die manier hoe hy staan, sy hare en sy voorkop lyk wel baie na Coetzee.”
Die beeld is egter nie duidelik genoeg vir haar om doodseker te wees nie.
Indien iemand dalk Coetzee in Middelburg gesien het, of inlingting het oor waar hy homself bevind, word gevra dat hulle Thea sal kontak by 083 607 1164.
