News

Drie kinders sterf in N4 ongeluk

Pad behoort binne uur oop te wees.

Drie kinders is dood en verskeie ander mense beseer in ‘n gru-ongeluk tussen ‘n taxi, ‘n trok en twee bakkies vanoggend op die N4, naby die Arnot-afrit.

Met die joernalis se aankoms op die toneel, kon die gehuil van ‘n baba uit ‘n ambulans duidelik gehoor word.

Die bestuurder van die taxi het geskok langs die taxi gesit met ‘n kombers oor sy skouers en eenkant het ambulansmanne nog ‘n vrou gestabiliseer wat in die ongeluk beseer is.

Verskeie ambulanse en paramedici, asook die brandweer, polisie en provinsiale verkeersdepartement was op die toneel.

Die presiese omstandighede van die ongeluk is nie bekend nie, maar die trok het op sy kant dwars oor die grootste gedeelte van albei kante van die N4 gelê.

Voor die trok het die taxi gestaan en dit is duidelik dat hy op die kant getref is. Al die kinders wat gesterf het, was in die taxi.

‘n Bakkie het van agter af in die middel van die trok vasgery en ‘n ander bakkie het hom aan die kant getref.

Alhoewel die pad nie heeltemal gesluit was nie, was daar slegs aan die kant van die toneel ‘n baan elk aan weerskante van die N4 oop en is daar tans erge verkeersopeenhopings.

Van Wettens is egter reeds op die toneel en behoort die pad binne die volgende uur heeltemal oop te wees vir verkeer.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button