News

Bejaarde broers klim wonderbaarlik uit wrak na trokongeluk

Dit was net genade van Bo dat twee bejaarde mans feitlik sonder enige beserings Dinsdagmiddag uit die wrak van hul voertuig kon klim, nadat ’n wegholtrok met die twee broers reg onder die treinbrug op die ou-Witbankpad, gebots het.

Mnr. Fanie Mtsweni (73) sê hy en sy broer Markos (81) was uit eMalahleni onderweg na ’n plaas in die Doornkop-omgewing buite Middelburg, wat aan die jonger Mtsweni broer behoort.

Hy ry gereeld die pad na die plaas en sê dat hoewel die pad soms rof raak, met motoriste wat kanse vat, hulle nog nooit so noue ontkoming gehad het nie.

In ’n telefoniese onderhoud, wat eers in Engels begin het, maar gou oorgeskakel het na Afrikaans, het mnr. Mtsweni in vlot Afrikaans vertel dat hy verkies om nie die duur tolfooie te betaal nie, soos honderde andere padgebruikers wat daagliks heen en weer tussen Middelburg en eMalahleni op die oupad ry.

“Sien, ek besoek my plaas om daar om te sien na die vee en mielies, ja ek boer nog!” het hy geskerts toe daar gevra is na sy ouderdom en waarheen hulle op pad was.

Mnr. Mtsweni sê dat hulle soos altyd, rustig gery het toe die trok hul kar skielik onder die treinbrug tref.
Die impak het die voertuig teen die brugpilare vasgeslinger en verfrommel.

Ooggetuies op die toneel glo almal dat dit ’n wonderwerk is dat beide die Mtsweni broers uit die voertuig geklim het met net skrape.

“Ag my skouer is bietjie seer en ek het ’n sny op die kop, Markos is nog blyer as ekke, toe ons so na die scrapkar kyk,” sê mnr. Mtsweni.
“Ja man, die hospitaal hy was moeilik,” kla mnr. Mtsweni oor sy een aand in die hospitaal.

“Hulle wou nie dat ek huistoe nie, maar ek is weer terug met die sakkie pynpille wat die hospitaal my laat vat het.”

Verkeer was kort na 12:00 Dinsdag lelik ontwrig deur die botsing, met die pad wat eers weer omstreeks 16:00 vir verkeer oopgestel is.
“Ek het daai trok sien kom, hy was vinnig,” sê mnr. Mtsweni, wat bylas dat hy niks kon doen om die botsing te vermy nie.

“Daar onder daai brug, hy’t ons geslaan net daar.”

Volgens mnr. Mtsweni moes die trokdrywer beheer verloor het, en mnr. Mtsweni self sê dit is “goed, man goed,” dat hul lewens gespaar is, “want daai spoed maak dood, daai trok was vinnig!”.

Hy bedank almal wat hulp verleen het op die toneel en wag nou vir sy makelaar om die versekering uit te sorteer.

“Die plaas hy roep my, ek hoor,” sê mnr. Mtsweni oor die feit dat hy weer die pad sal moet aanpak.

“Joh, ek het geskrik, Markos het geskrik, maar die beeste word vet en die mielies word lank.”

Lees ook:

R555 (Witbank) closed by collision

 
Back to top button