Frik en Wynand by bekendstelling van die boek Onkant
“As jy Saterdagmiddae kliphard vir die televisie skree, of op die sypaadjie sal slaap om ’n kaartjie vir ’n groot wedstryd te kry, dan is die boek vir jou.”
Die rugbyboek, Onkant, is gisteraand by die Groundsman-restaurant in Pretoria bekendgestel, met oud Springbok kaptein en Middelburg legende, Wynand Claassen, as een van die gaste. Daar is ’n hoofstuk oor Wynand se seun, Antonie, in die boek.
Die rugbyspeler van die eeu, Frik du Preez, was ook teenwoordig.
Die skrywer, Jody Hendricks. sportaanbieder van RSG Sport, het ’n antwoord en vraesessie gehad, waarin Hancke vertel het van sy reis om die boek te skryf en gedeeltes aangehaal wat die gaste soms laat hoendervleis kry het en ander kere ’n traan in die oog.

Op die agterblad word Vrystaatse haker, Louis “Chucky” van der Westhuizen aangehaal wat in die Wêreldbeker gespeel het, nog voordat hy in die Varsitybeker uitgedraf het.
“Toe ek in my eerste wêreldbekerwedstryd uitdraf, was daar iets soos 54 000 mense.
Jy sien net kameraflitse, dis amper hipnoties…die coach skree vir my ‘Chucky, waarmee is jy besig?’ Toe besef ek eers ek is besig om vir die mense te waai.”
Daar word verder op die agterblad uitgebrei: “Het jy al ooit gewonder hoe 50 000 ekstatiese ondersteuners op die paviljoen klink of wat dit beteken om ’n Springbokbaadjie in jou kas te hê?

“In die aanloop tot die Rugbywêreldbeker het die joernalis, Hendrik Hancke, die land deurkruis om met oud-Springbokke, provinsiale spelers, breiers en ’n rugbyskrywer te gesels, oor hulle liefde vir rugby.
Hulle deel persoonlike oorwinnings en teleurstelling, die lesse wat rugby hulle al geleer het, spesiale kleedkamer-oomblikke en stories wat van die veld af gebeur.
“As jy Saterdagmiddae kliphard vir die televisie skree, of op die sypaadjie sal slaap om ’n kaartjie vir ’n groot wedstryd te kry, dan is die boek vir jou.”
Die uitgewers is Jonathan Ball en “Onkant” is by boekwinkels beskikbaar.

