Voormalige misdaadbekamper self slagoffer van grypdiewe in sakekern
Misdaad in sakekern neem weer toe met grypdiewe wat geen vrees het vir duur CCTV kameras
Die man wat die voormalige elektroniese parkeerbeheer-sisteem in Middelburg gevestig het, mnr. Les Cass, was die week self die slagoffer van grypdiewe in die sentrale sakekern.
Die parkeerbeheer-sisteem is juis gevestig om misdaad in die sakekern hok te slaan, maar die kontrak is nooit deur die munisipaliteit hernieu nie, en derhalwe het dit doodgeloop.
Mnr. Cass sê dat hy Donderdag (gister) naby Absa Bank in OR Tambostraat gestop het.
Toe hy uitklim, het ’n boef skielik die passasierdeur van sy voertuig oopgepluk en sy selfoon, ’n Xiaome Note 10 Pro, uit sy voertuig gegryp.
Die boef, wat ’n makker by hom gehad het, het toe laat spaander.
Mnr. Cass sê hulle het vinnig verdwyn en kon nie agterna gesit word nie.
Hy is dadelik polisiestasie toe waar ’n polisieman geweier het om hom te help omdat hy nie die foon se reeksnommer op die oorspronklike verpakking van die foon kon toon nie.
Mnr. Cass het verduidelik dat hy in Johannesburg woon, en die verpakking daar is.
Die polisieman het hom toe aangeraai om ’n saak in Johannesburg met sy tuiskoms te gaan oopmaak.
Mnr. Cass het intussen die foon, van oor die R7 000, vervang.
Hy sê dat dit beslis weer nodig is vir ’n parkeerbeheer-sisteem waar karoppassers se misdaadrekords nagegaan word voor aanstelling.
“Daai sisteem het beslis tot ’n afname in misdaad gelei,” sê hy.
Die afgelope ruk het grypdiefstalle in die sakekern weer begin handuit ruk.
Die munisipaliteit het derduisende spandeer met die installasie van CCTV-kameras regdeur die sakekern, wat tot dusver nog nie suksesvol was om misdaad te bekamp nie.
Boonop stel die munisipaliteit net beeldmateriaal beskikbaar op aandrang van die polisie, en vir slagoffers met amptelike polisie saaknommers.
Weinig van die misdade word aangemeld omdat die polisie volgens mnr. Cass so onbehulpsaam is.
“Hulle sal enige verskoning uitdink om nie ’n saak oop te maak nie, en so die misdaadstatistieke te dokter sodat dit hulle laat goed lyk.”
