Bejaarde vrou doodgery wat dokter wou besoek
’n Bejaarde vrou is vanoggend naby die boonste ingang van Nasaret op die N11 doodgery.
Me. Martha Bruiners (72) is omstreeks 05:30 doodgery. Haar seun, Claiton, het bevestig dat dit sy ma is wat doodgery is.
Op die toneel is gesê dat sy naby die boonste ingang deur ’n taxi raakgery en haar liggaam sowat 200m ver gesleep is.
Daar is ook beweer dat sy langs die pad gestaan het toe sy raakgery is.

Familie het gemeld dat sy vroeg gewag het vir ’n taxi langs die pad, sodat sy na die Middelburg Hospitaal kon gaan vir haar jaarlikse besoek.
• Rou snikke is die hele tyd op die toneel gehoor toe haar susters en broer, kinders, kleinkinders en ander familielede op die toneel aangekom het.

Hulle was uiters ontsteld en het gesê dat die ongeluk al 05:30 gebeur en die drywer met ’n ambulans weg geneem is, maar dat die paramedikuste haar nie dood kon verklaar het nie.
Selfs die polisie se Plaaslike Rekordsentrum het al hul foto’s geneem sodat die forensiese afdeling die oorskot kon laai, maar sy moes eers dood verklaar word.
• Japie Willemse (ook lid van die Nasaret Taxi Assosiasie) het hom sterk uitgespreek toe daar teen 07:30, terwyl die joernalis nog op die toneel was, nog nie ’n ambulans was om haar dood te verklaar nie.

“Daar is ’n man, wat niks makeer het nie, weg gevat met die ambulans, maar hulle los haar net so!”
• Nadat die Provinsiale Ambulansdiens om 08:00 me. Bruiners dood verklaar het, het mnr. Willemse na hul kantoor gery om te vra waarom dit so lank geneem het.
Hy is tans nog daar om antwoorde te kry.


